Word wakker !
J P Botha
Kom sê my tog, as jy dit weet,
het daar 'n ramp my arme volk getref?
Het hy sy herkoms nou totaal vergeet?
Is dit 'n skande om opregte Boer te wees?
Het al ons vryheidsdrang dan nou verdwyn
saam met die polsslag van ons vegtersgees?
Ons hoor mos daagliks tot vervelens toe:
"Gee liewers toe, ja gee tog liewers oor,
want konfrontasie sal te vreeslik wees...
Dis feitlik nou al klaar met kees!
Wie kan tog teen die oormag staan,
Wyl felle winde van verandering waai?
Om stand te hou is ydel waan.
Die hele wêreld het teen ons gedraai;
hul haat en nyd lê teen ons opgelaai.
Kom laat ons dan, so gou ons kan
gehoorsaam na die onderhandelingstafel gaan."
As stoere Trekkers eens voor Bloedrivier
geswig het voor die hordes van Dingaan,
en teruggedraai het na die Kaap,
geteister deur 'n lafaardswaan...
As Kruger eens aan Milner sou erken:
"Ons het geen hoop om hierdie oorlog ooit te wen.
In toe te gee, lê ons behoud.
Vat tog by voorbaat maar ons goud..."
Dan het die Boerevolk reeds lank gelee
die laaste skrede na sy graf gegee.
Maar dank die Heer vir mannekrag en heldemoed
wat nooit teruggedeins het om hul bloed
te stort vir dierbare Suid-Afrika!
Is dit dan alles nou teveel gevra?
Of is my volk dan besig om te sterf,
of het hy reeds 'n lafaardsnaam verwerf?
My liewe Afrikanervolkie, staan tog net weer op
en gord jou met die bandolier van nuwe hoop.
Beklee jou weer met moed en durf wat soos
'n goue draad deur ons geskiedenis loop.
En neem tog standpunt in teen hierdie hordes
wat so vermetel aanslag teen jou volkswees maak!
Die uur is daar, dis tyd om te ontwaak
Word waardig weer om die naam te dra
van Boerenasie van Suid-Afrika !