DIE OORWINNAARS

deur Eugéne Nielen Marais

(By die kindergraffies uit die Konsentrasiekamp van Nylstroom)

OORWINNAARS vir ons volk,

bly u vir al wat beste in ons is ‘n ewig’ tolk;

nooit weer sal vyands voet u stof so diep vertrap en smoor

dat ons u langer nie kan sien – en hoor.

Nie onse Helde, wat die magtig’ leër

op glansryk’ velde kon weerstaan en keer;

nie onse Seuns, wat aan die galg en teen die muur

die diepe liefde vir hul eie moes verduur;

nie onse Moeders, wat met bloeiend’ hart en seer,

in swart Gethsemané die ware smart moes leer;

nie onse Generaals, vereer met krans en riddelsnoer;

- was waardig vir ons volk die hoge stryd te voer en te oorwin.

Nie ons, met vuile hand en hart ontrou

was waardig om die vaandel hoog te hou.

Maar u, o bleke spokies, in U kermend’, klagend’ wee,

Staan voor ons ewiglik beskermend – uit die lang verlee.