1902

deur Eugéne Nielen Marais

 

GOD van ons Vaders, as U wil bestaan,

dat ons as Staat en Nasie moet vergaan, -

besoedel deur verraad, ontrou

aan alles deur ons Vaders opgebou

(die ideale vir ons opgegaar

deur worst’ling van ‘n halwe duisend jaar!);

bedwelmd deur elke lawwe vrees,

onwaardig langer nog ‘n volk te wees;

ons diepste liefde steeds gesmoor

om vreemdeling en vyand na te spoor;

en vuile hande, rooi bevlek,

met bloed van broer en vriend bedek; -

God van ons Vaders, bly U wil bestaan,

leer ons genadiglik die dood blymoedig in te gaan.