SKOPPENSBOER

        deur  Eugéne N Marais

 

‘n Druppel gal is in die soetste wyn;

‘n traan is op elk’vrolik’ snaar,

in elke lag ‘n sug van pyn,

in elke roos ‘n dowwe blaar.

Die een wat deur die nag

ons pret beloer

en laaste lag

is Skoppensboer.

 

Gewis en seker is die woord:

die skatte wat ons opvergaar,

ondanks die sterkste slot en koord,

word net vir mot en roes bewaar.

Net pagters ons

van stof en dons

om oor te voer

aan Skoppensboer.

 

Die heerlikheid van vlees en bloed;

die hare wat die sonlig vang

en weergee n ‘n goue gloed;

die dagbreek op elk’ sagte wang

en oge vol van sterreprag

is weerloos teen sy groter mag.

Alreeds begin die rimpel sny;

oor alles hou die wurm wag

en stof en as is al wat bly:

Want swart en droef,

die hoogste troef

oor al wat roer

is Skoppenboer.

 

Gewis is alles net ‘n grap!

Ons speel in die komedie mee

Geblinddoek met ‘n lamferlap

wat selfs die son ‘n skadu gee.

Wat treur ons tog?

Viool en fluit maak nog geluid

en lank die nag wat voorlê nog.

Al  kan ons nooit volmaaktheid raak,

nog blink die oog en gloei die huid

wat heel die winter blomtyd maak.

Dus onverlee

lag ons maar mee

met elke toer

van Skoppensboer!