EENSAAMHEID

      deur  Jan F E Cilliers

 

My vuurtjie en ek is op wag –

my vuurtjie en ek alleen;

die awendster

wink al van ver

en die velde slaap onheen.

 

En stadigies sterwe die dag,

soos een in sy armoed verlaat,

ongesien, ongeag,

sonder suggie of lag,

waar niemand van weet of van praat.

 

Nou bly die lug alom

in stil aanbidding staan –

geen tampende bel

wat die ure tel:

net die sterre wat kom en gaan.

 

Die osse, met koppe gebuie,

herkoue nog stil in die nag,

tot één vir één buk

en gaan lê by sy juk,

met ‘n sug, na die trek van die dag.

 

My vuurtjie is al wat nog leef

in die eindeloos ruim met my,

en sy stemmetjie dwaal

soos ‘n deuntjie wat draal

om dae lank verby.

 

Om jonkheids blye môre

en laggies lank verlewe,

Dan voel ek ‘n traan

in my oë staan

en ek fluister;  “Heer, vergewe!”

 

Die slapende velde lê wyd,

en wyer die donker see,

wat my vuurtjie en my

vanawend skei

van die wêreld se vreug en wee;

 

ek weet daar’s fees vanaand

in menig verligte saal,

maar geeneen wat my mis

by die dans en die dis –

‘n balling vergeet en verdwaal.

 

Maar al is ek, ver van die skaar,

in eensaamheidswoning getrede,

ek voel my soos een

met die Heer alleen –

‘n kind aan sy boesem tevrede.