ONS REPUBLIKEINSE GELOFTE

deur   G A Watermeyer

U het ons, Heer, in hierdie stroewe land gebring;
ons lank in vlaktestilte afgesonder en omring
met veel gevare en met veel verdriet kasty,
opdat u Woord weer werklikheidsgestalte vir ons kry...
En waar ons volkwees in die weegskaal was,
het U, o God, wat waak oor elke ras,
telkens óns reg en heersreg in dié land
bekragtig met die sterkte van u hand:

By Bloedrivier het U verbond gehou, o Heer,
en teen die hellings van Majuba weer
die Paardekraalgelofte trou gebly
en uitgebou totdat ons volksvlag vry
van elke knelling en van haat ontdaan,
bo Afrika se suiderheuwels staan......

Driehonderd jaar en meer was U ons Bondgenoot  -
Ons vegskans teen die vyand, skuiling in ons nood;
wees nou opnuut dievesting van ons nasie , Heer,
in hierdie tyd van haat wat driftig teen ons keer;
wees U ons buitelinie en ons binnemuur
en gee dat u geregtigheid ons stuur
op wyse weë; stroop ons van alle waan en dwaling naak;
maar steun die suiwer kern van ons suiwer saak,
en gee dat die geroepe wete wat ons dra,
volledig volksgestalte vind in Afrika....

En ons sal, met verdiepte eerbied en hernieude trou,
die sestiende Desember as ‘n Godsdag hou,
en magtig saamtrek oor die land en u genade roem,
en al u grote dade met ons voorgeslagte noem;
en ons sal u verbondsvolk wees, u Naam bely en loof –
God, wat die manna weer kan saai, en weer die seë kloof,
en weer teen elke Filistyn en elke Ammoniet se stand
u nasie veilig lei en voer na die beloofde land....

U het ons, Heer, in hierdie helder land gebring,
en met die tekens van u trou en goedertierenheid omring,
dat ons genade-sterk in die geloof mag staan
teen elke onheilswind wat teen ons poorte slaan;
en elke stad en vesting wat hom teen óns keer,
opnuut die krag sal ken van u Almagtigheid, o Heer