Uit Donker Afrika, verse van Totius, Nas.Pers, Bpk, Bloemfontein, 1936.
Manestraal aan troeb’le trans;rond die vure glimmerglas;
Swartes nes in dodedans
om die vlamme.
Windgewiegeld, tak en blaar
wink met vreemde spookgebaar;
skaduwees nes skimme waar
om die stamme.
Dan gedruis van bometop;
dansgedreun en skildgeklop;
vuurgeglim van onder-op,
hel-taf’rele! . . .
Vlammend rys sy speer oplaas.
Stiller word die krygsgeraas.
Nagwind waai met stormgeblaas
sy bevele.
“Hoor die seun van Matchobaan!
Ha, die witman kom weer aan.
Tweemaal het hy ons verslaan;
nou nie weer nie.
Lewend afgeslag is hul,
altwee saam, maar witpens-bul –
dis die witman s’n, - hy brul
nou nie meer nie.
“Dans dan by die nuwe maan!
Sing die seun van Matchobaan!
Slag nou van die voorpoot aan
blinkvet beeste.
Gooi die offerbulle nou
in die stormwaters grou
met die feesbier wat hul brou
vir die geeste!
“Laat die dokter uit jul drom
soek deur wie die onheil kom
oor die Matabeledom –
braai verraaiers!
Vang die slagos uit die trop;
vlek dit oop, sy skouertop,
sny dit fyn, in toutjies op,
dat die braaiers
“dit kan gaar skroei in die rook.
Wie geen stuk byt van die strook,
drink geen bitter asstof ook,
is geen man nie .
Pas dan môre op vir die lis
wat die krag van witman is;
laat jul van jul erfenis
nie verban nie.”
Dan brul hulle weer sy lof.
Kermend kreun dit uit die stof:
slagos bloei nog uit sy skof,
moeg gemartel;
en verraaier – martelaar
aangesleep uit die digte skaar
met ‘n wilde wringgebaar,
teëspartel.
“Eet en drink nou mond tot mond,
dans en huppel vrolik rond
tot die maan lê op die grond
met sy sterre!”
Aldus golf sy oorlogswoord
op die wind se dreuning voort,
en in volle hel-akkoord
steun van verre.