KRUGER

DIE ROEPSTEMVAN ONS DIGTERS

Hier is een van die vroeë werke van een van ons geliefde digters, Jan Celliers. Hy het daar in 1920/21 sy eerste gedigte nog nie so mooi afgerond  as wat later die geval was nie, maar kyk hoe treffend mooi is dit:

KRUGER

Soos ‘n berg, ongebuk,
breed en bonkig van stuk,
dis hy!

Die gelaat, hap vir hap
uit die kranse gekap,
elke kerf, elke knou
harde noodlot se hou;
elke moet, elke merk
vryheidsvyand se werk,
dis hy!

Groot-eenvoudig gerig
deur die Woord as sy lig.
Sonder traan, sonder lag,
stil en stoer in sy krag.
Maats-egaal in sy daad,
wysheidwigtig sy raad, -
suinig woord, raak en kort
soos ‘n skot uit ‘n fort.

Nie soos storm wat woel,
dog onkeerbaar en koel –
soos die Vaal se vloed gly,
dis hy!

Simsonkragtig gepees
soos die korpus, die gees.
Wie die weg ons berei
wat tot vryheid sal lei,
dis hy!