NOOIENTJIE MET DIE SPROETE

DIE NOOIENTJIE MET DIE SPROETE

                C J Langenhoven

Jong, ek raai jou loop tog wakker:
Daardie sproetnooi is 'n rakker -
Sy's 'n skelm en 'n strik en 'n gevaar;
Sy verlok jou met haar laggies,
Net soos klokkies soet en saggies,
Met die sonskyn in die goudglans van haar haar.

Sy is fyntjies en sy's liefies, met twee ogies soet en wyd-
Soeter ogies is daar nergens maar so vol van listigheid!
Daar's vonkels in haar ogies wat so diep daarbinne woon-
O, die stoute kleine vonkels, stout en skelmpies, wonderskoon,
Dansend, glansend in haar ogies al die tyd!

Soos haar sproete aardig fluister van die goue somergloed,
Soos die sonskyn uit haar goue hare straal,
Is daar somer in haar lewensvuur en gloed-
Is daar sonskyn om haar heen in owervloed-
Is daar warmte in haar skoonheid en haar praal.

Maar ek seg jou vlug van daardie soet-verleidelike lag-
Ja, al is dit ook so helder en so vriend'lik soos die dag:
Want sy kom met 'n geruisie soos die windjie deur die lower
Maar jou hartvuur sal sal sy aanblaas en jou siel sal sy betower-
Jy sal val soos ek geval het in haar mag.

Jong, ek seg jou weer wees wakker,
Want die rooi-nooi is 'n rakker-
Vlug tog weg, terwyl dit tyd is, van haar heen
Van haar sproete en die songlans in haar haar,
Van haar laggie en haar listige gevaar-
Vlug tog weg en laat haar bly vir my alleen.