HULDEBLYK EUGÈNE MARAIS

1872 - 1936

As Eugène Marais vandag, 9 Januarie 2011, geleef het sou hy 139 jaar oud wees.

Hy is op die plaas Daspoort naby Pretoria gebore. Hy was die jongste van die sewe kinders van Jan Christian Nielen Marais, van Stellenbosch, en Sophia van Niekerk, van Malmesbury, 'n egpaar wat 'n paar jaar van tevore na Transvaal getrek het.

As Eugène Nielen Marais nooit geleef het nie, as die Afrikaanse letterkunde sonder sy bydrae van kleine omvang moes wees, sou ons jong volk en ons jong literatuur armer wees. Na alle uiterlike tekens was hy eensaam en gering, maar in hom het hy omgedra 'n besonder talentvolle gees. Die boekies wat sy naam as outeur op die titelblad dra is slegs 'n paar, maar in hulle is te vind die heldere skoonheidskristalle afgeskei deur die diepste lye.  Hy het min werklike vriende gehad omdat hy die meeste jare van sy lewe deur sy verdriet na die stilte gedryf is. Sy werk het min liefhebbers gevind omdat dit nie geroep het na die handegeklap van die menigte nie maar stille huiwering gewek het by die aanskouing van soveel lye, 'n lye wat so intens was dat dit die kunstenaar Marais tot die suiwerste uitputting gepers het.

Die tragiese verloop van Marais se latere lewe het sy eerste oorsaak in die dood van sy vrou, want sy kortstondige huwelikslewe het weer 'n eweredigheid van rus en werksaamheid gebring nadat hy gedurige druk en slapelose nagte as jong joernalis beleef het.

Na sy vrou se dood as gevolg van die geboorte van hulle eersteling – 'n seun wat later sy vader se naam gedra het - het die onrusbarende tekens weer hul verskyning gemaak, nou egter miskien meer veroorsaak deur droewige herinnering as deur aanhoudende breininspanning.

Aan die einde van 1896 is Marais na Europa waar hy hom as advokaat bekwaam het, en ook 'n studie van medisyne in 'n kliniek van Guy's Hospitaal gemaak het. Daarna het hy spykerskrif in die Britse museum en in Egipte bestudeer. Daar het hy sy volk ook waardevolle diens bewys deur sonder vergoeding die Republiek se konsul, mnr Montagu White, te help met die opstel van die getuienis vir die ondersoek na die bestuur van Rhodes. Marais het in hierdie tyd ook saam met 'n groep Duitse studente die Europese hoofstede besoek om in opdrag van die Pruisiese regering die vraagstuk van onsedelikheid te bestudeer.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorloog is Marais in Londen onder parool geplaas en moes hy veertien dae kennis gee indien hy Engeland wou verlaat. Sonder moeite het hy verlof gekry om na België te gaan waarvandaan hy saam met 'n Duitse ekspedisie 'n mislukte poging aangewend het om genl Beyers in Noord-Transvaal van ammunisie te voorsien.

Ook is bekend hoe Marais lank in Delagoabaai en in Pretoria aan koors siek gelê het en dat hy later met die hulp van Gustav Preller 'Land en Volk' laat herleef het.

Later was hy vrederegter in Waterberg sowel as nie-amptelike geneesheer. Gedurende die Wêreldoorlog het hy as advokaat in Pretoria en Johannesburg gepraktiseer, is daarna weer 'n rukkie terug Waterberg toe om sy diere- en miere-studies voort te sit, bly weer 'n tyd lank by sy broer op Boshof, was agt maande lank vennoot in 'n prokureursfirma op Erasmus, ontdek toe dr AG Visser as digter terwyl hy 'n aantal jare op Heidelberg was, en keer in 1929 na Pretoria terug waar hy gedurende sy laaste jare by dr Preller, sy lewenslange vriend, ingewoon het.

Eugène Marais was een van ons suiwerste digters en ook in sy prosawerk vind ons tekens van sy besondere siening en sonderlinge dog minsame persoonlikheid.

Sy vroegste bekende gedig is nie die beroemde en pragtige Winternag nie maar sover bekend 'Gert Senekal' wat in 1891 in 'Land en Volk' verskyn, 'n eg Afrikaanse weergawe van Leigh Hunt se 'Abou Ben Adhem.' Die engel maak sy verskyning by die vrome ouderling en die klimaks word bereik in die woorde:

Di Engel antwoord droevig: 'Jy het niks gedaan

Dat jou naam waardig maak om hier te staan.'

Hy roer sy sulver vlerke – blink en fyn,

Soos maanlig wat deur groote boome skyn,

En toe verdwyn hy sonder een woord meer.

En Senekal die slaap di nag ni weer.

 

Met die dood van Marais het ons volk een van die Groot Vier van ons digters verloor.  'n Groot deel van die intellektuele publiek het hom egter nooit saam met die ander ouer digters genoem nie. Die gebrek aan belangstelling word direk aan Marais self toegewyt omdat hy tevrede was om op die agtergrond te bly. Hy was 'n alleenloper wat skynbaar nooit deur wat daar in die maatskaplike wêreld gebeur beïnvloed is nie.  Drupsgewyse het sy Verse en sy Gedigte verskyn, kort daarna gevolg deur sy Versamelde Gedigte waarin net 'n paar nuwe verse bygekom het. Hierdie bundeltjie bevat 'n paar gedigte wat esteties tot die beste behoort wat in ons taal verskyn het.  Meeste van sy verse is net die neerslag van sy eie lewenservaring en veral van sy vertroebelde lewenskyk. Hierdie groot eensame het vermoedelik, danksy sy kennismaking met die beste digters uit die wêreld-letterkunde, behoefte gehad om hom as indiwidu uit te leef in 'n tyd toe ons verskuns volkskuns was.

 

Marais se beroemdste gedig, Winternag, het om kultuur-historiese redes 'n enige plek in ons letterkunde ingeneem en ons sluit hiermee af:

 

O, koud is die windjie

en skraal;

En blink in die doflig

en kaal -

So wyd as die Heer se genade -

lê die velde in sterlig en skade

En hoog teen die rande

verspreid in die brande

is die grassaad aan roerr

soos wenkende hande

O, treurig die wysie

op die ooswind se maat,

soos die lied van 'n meisie

in haar liefde verlaat!

In elke grashalm se vou

blink 'n druppel van dou

en vinnig verbleek dit

tot ryp in die kou.