VOOR IN DIE WAPAD BRAND ‘N LIG!

Hierdie opskrif is by een van A G Visser se treffendste vaderlandse gedigte, met ‘n sub-opskrif:  (S.J.P.Kruger -  10 Okt.  1825). Kom ons lê saam met hom besoek af by die ou Staatsman in die vreemde en treur saam oor verlore vryheid, wat tans ook weer ons lot is.

 

Vryheid, woord van alle woorde

Wat die mensehart beroer,

Op jou wekroep na die Noorde

Trek die stoere, kleine Boer.

In die leerskool van gevare –

Wilde diere en barbare –

Word gebrei sy kinderjare.

Onder swaarkry nooit beskrywe

Groei ‘n man op, langs die pad,

Wat die eie span kan drywe

En die voortou veilig vat:

Vir g’n drif of duister swig ....

Voor in die wapad brand ‘n lig.

 

Kom die jonkman uit die Noorde

Wyl die awendskadu’s val;

Skuimend lek die stroom sy boorde:

Vaalrivier lê kant en wal.

In die waters van die Vaal

Waar die donker draaikolk maal,

Helder skitter daar ‘n straal!

Oë mistig van verlange,

Weerskyn van ‘n skone droom:

Sagte arms, rooie wange ...

En hy werp hom in die stroom!

Liefde hou sy blik gerig ....

Oorkant die water brand ‘n lig!

 

Heldemoed en doodsveragting,

Makapan, spel jou spelonk

Op die dag van wrede slagting

Van jou stryders bloedlus-dronk.

Reg voor die spelonk se mond

Val die voorman swaar gewond,

Drenkend met sy bloed die grond.

Met die uitroep: “Help!  o Here,”

Onweerstaanbaar soos die wind,

Uit die mond van die gewere

Red hy sy gewonde vrind!

Broederliefde en burgerplig –

Diep in sy boesem gloei die lig.

 

Na die veldtog, rus en vrede –

Vrede in die Vaderland;

Nader bring hom elke skrede

Na die huisie teen die rant.

Met die troue eggenoot

En die kleintjies om haar skoot,

Dierbaar almal, klein en groot,

En hy neurie:  “Dank U, Vader,”

Wyl sy hart al sneller klop –

“Dat die uur van weersien nader!”

Trek sy perd weer op galop;

Vreug verklaar sy aangesig:

Voor in die wapad brand ‘n lig!

 

Swarte, sware onweerswolke

Trek saam oor die jonge staat,

Benjamin van al die volke

Prooi van hebsug, nyd en haat.

“Hier,” spreek hy, “g’n dwinglandy,

“Hier g’n vreemde heerskappy,

“Weet’die wêreld: Ons is vry!

“Bewe vir g’n krygsbasuine,

“G’n geweldenaar se wrok;

“Nooit lê hy ons land in puine

“Voor ons heel die mensdom skok!

“Val vry, felle bliksemskig:

“Bo-op Majoeba brand ‘n lig!”

 

In die land van sneeu en koue

Peins oorstelp die gryse held,

Enkel met sy Godsvertroue

En verlange na sy veld!

Hoor hom smeek: “Heer, dis genoeg;

“Roep die landman van die ploeg:

“Hy’s gedaan, Heer, hy is moeg!

“U, die Kenner van die harte,

“Weet wat elke hart kan dra.

“Lenig, Man van Smart, die smarte

“Van verwond’  Suid-Afrika.”

Sterwend straal sy aangesig:

“Voor in die wapad brand ‘n lig!”