Hierdie opskrif is by een van A G Visser se treffendste vaderlandse gedigte, met ‘n sub-opskrif: (S.J.P.Kruger - 10 Okt. 1825). Kom ons lê saam met hom besoek af by die ou Staatsman in die vreemde en treur saam oor verlore vryheid, wat tans ook weer ons lot is.
Vryheid, woord van alle woorde
Wat die mensehart beroer,
Op jou wekroep na die Noorde
Trek die stoere, kleine Boer.
In die leerskool van gevare –
Wilde diere en barbare –
Word gebrei sy kinderjare.
Onder swaarkry nooit beskrywe
Groei ‘n man op, langs die pad,
Wat die eie span kan drywe
En die voortou veilig vat:
Vir g’n drif of duister swig ....
Voor in die wapad brand ‘n lig.
Kom die jonkman uit die Noorde
Wyl die awendskadu’s val;
Skuimend lek die stroom sy boorde:
Vaalrivier lê kant en wal.
In die waters van die Vaal
Waar die donker draaikolk maal,
Helder skitter daar ‘n straal!
Oë mistig van verlange,
Weerskyn van ‘n skone droom:
Sagte arms, rooie wange ...
En hy werp hom in die stroom!
Liefde hou sy blik gerig ....
Oorkant die water brand ‘n lig!
Heldemoed en doodsveragting,
Makapan, spel jou spelonk
Op die dag van wrede slagting
Van jou stryders bloedlus-dronk.
Reg voor die spelonk se mond
Val die voorman swaar gewond,
Drenkend met sy bloed die grond.
Met die uitroep: “Help! o Here,”
Onweerstaanbaar soos die wind,
Uit die mond van die gewere
Red hy sy gewonde vrind!
Broederliefde en burgerplig –
Diep in sy boesem gloei die lig.
Na die veldtog, rus en vrede –
Vrede in die Vaderland;
Nader bring hom elke skrede
Na die huisie teen die rant.
Met die troue eggenoot
En die kleintjies om haar skoot,
Dierbaar almal, klein en groot,
En hy neurie: “Dank U, Vader,”
Wyl sy hart al sneller klop –
“Dat die uur van weersien nader!”
Trek sy perd weer op galop;
Vreug verklaar sy aangesig:
Voor in die wapad brand ‘n lig!
Swarte, sware onweerswolke
Trek saam oor die jonge staat,
Benjamin van al die volke
Prooi van hebsug, nyd en haat.
“Hier,” spreek hy, “g’n dwinglandy,
“Hier g’n vreemde heerskappy,
“Weet’die wêreld: Ons is vry!
“Bewe vir g’n krygsbasuine,
“G’n geweldenaar se wrok;
“Nooit lê hy ons land in puine
“Voor ons heel die mensdom skok!
“Val vry, felle bliksemskig:
“Bo-op Majoeba brand ‘n lig!”
In die land van sneeu en koue
Peins oorstelp die gryse held,
Enkel met sy Godsvertroue
En verlange na sy veld!
Hoor hom smeek: “Heer, dis genoeg;
“Roep die landman van die ploeg:
“Hy’s gedaan, Heer, hy is moeg!
“U, die Kenner van die harte,
“Weet wat elke hart kan dra.
“Lenig, Man van Smart, die smarte
“Van verwond’ Suid-Afrika.”
Sterwend straal sy aangesig:
“Voor in die wapad brand ‘n lig!”