Lees meer by Gedigte
Hierdie gediggie is geskryf deur TOTIUS, met verwysing na die lyding tydens die Tweede Vryheidsoorlog
Daar het ’n doringboompie
Vlak by die pad gestaan,
Waar lange ossespanne
Met sware vragte gaan.
En eendag kom daarlangs
’n ossewa verby
Wat met sy sware wiel
Dwars-oor die boompie ry.
"Jy het mos doringstruikie
My anderdag gekrap;
En daarom het my wiele
Jou kroontjie plat getrap."
Die ossewa verdwyn weer
Agter ’n heuweltop,
En langsaam buig die boompie
Sy stammetjie weer op.
Sy skoonheid was geskonde:
Sy bassies was geskeur.
Op een plek was die stammetjie
So amper middeldeur.
Maar tog het die boompie
Weer stadig reggekom,
Want oor sy wonde druppel
Die salf van eie gom.
Ook het die loop van jare
Die wonde weggewis —
Net een plek bly ’n teken,
Wat onuitwisbaar is.
Die wonde word gesond weer
As jare kom en gaan,
Maar daardie merk word groter
En groei maar adeur aan.