BY DIE MONUMENT

Lees meer by Gedigte

'n Gediggie deur A.G. VISSER ter nagedagtenis aan die talle kinders wat in die konsentrasiekampe tydens die Tweede Vryheidsoorlog gesterf het.

Rus in vrede, tere bloeisels,
Offers van die storm
Want uit weke moedertrane
Is die steen gevorm

Blomme van ’n later lente
Laat die boodskap weet:
Sê in liefde aan ons dode
Ons het nie vergeet.

Kleine Afrikaner-stemme,
— In ons eie taal —
Bring hier toegewyde hulde
Aan 'n ideaal.

Kleine Afrikaner-harte
Voel hier sterk en groot:
Want besieling vloei uit lyde
Iewe uit die dood,

Kleine Afrikaner-hande
Sal die fakkels dra
Wat aan julle vroeg ontval is —
Vir Suid-Afrika.

Swaar — hoe swaar ook al — die smarte,
Duur — hoe duur — die prys,
Nooit vergeefs die offerande
Wat die vryheid eis:

Skyn die nag so lank, so donker,
Skyn die dag so ver,
Rus in vrede: In die ooste
Blink die morester!