BESIT EN GEBRUIK

C J Langenhoven

Lees meer by Gedigte

Jou krag beteken niks; 'n perd het meer as jy,
maar jy kan dit gebruik om hom te tem en ry.
En jou geduld is niks; 'n donkie't meer as jy,
maar jy kan dit gebruik wanneer jy op hom ry.
Jou kennis is ook niks: 'n boek het meer as jy,
maar jy kan dit gebruik om meer nog by te kry.

Ervaring dan? 'n Swerweling het daarvan meer as jy,
maar jy kan dit gebruik om swerflingskap te my.
Bekwaamheid? Daar is mense meer bekwaam as jy,
wat graag vir hul bekwaamheid 'n lewenstog sou kry.

Besit van gawe nie, maar die gebruik daarvan
gee aanspraak op die naam van 'n begaafde man.