Uittreksels uit ‘n kantate vir die 1938-eeufeesviering van die Groot Trek
(bl 513-522 Du Toit (1962))
Dis ‘n geboortenag.
En dis ‘n wieg wat wag.
‘n Uur, ‘n tydmaat kort,
In weedom-spanning lank:
‘n Boerenasie word gebore!
…
Die trek van Boerewaens
wat wentel deur die wye,
gevreesde doodsvalleie
en ander skatte dra:
die Heil’ge Boek as Leider,
die swaard as hul bevryder;
in wildheid eindeloos
'n moeder met haar kroos;
die skat van hoë sede;
taaiheid in teënhede;
hoog-voor die vryheidshoop,
en …. Afrika gaan oop ‒
dié trek van Boerewaens,
hul was die nagverdrywers
van jou, groot Afrika!
Juig dan, o binnelande,
wat nog die tekens dra
van bloedtonele en brande!
Juig, strande vergeleë,
waar nog die kruise staan
van worst’laars op die seë!
Juig, hooglande in die hoogte,
woestyne kaal van droogte!
En laaglande aan die see –
juig in die vreugde mee!
Oerwoud, grasveld en strome,
ontwaak uit nare drome!
Die eeue is omgewend,
oop gaan 'n kontinent
voor hom, die nagverdrywer,
wat intrek met sy wa ‒
die Boer van Afrika!