KOM KUIER SAAM BY LEIPOLDT

Dis ‘n fees om deur die letterkundige nalatenskap van C Louis Leipoldt te blaai en sy wye verskeidenheid gedigte te lees. Vir hierdie eerste aanbieding daarvan neem ons drie ou kort gediggies. Die eerste twee weerspieël sy liefde vir die natuur en in die derde een is daar ‘n heenwysing na die gruwelike moorde wat op die Voortrekkers by Bloukrans gepleeg is.

 

EK SING VAN DIE WIND

Ek sing van die wind wat tekeer gaan;

Ek sing van die reën wat daar val;

Ek sing van ons vaal ou Karoland;

Van blomme wat bloei by die wal;

Van water wat bruis oor die klippe;

Van duikers wat draf oor die veld;

Van voëls wat daar sing in die bossies  -

Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!

 

Vir my sing maar liewers van blomme;

Van al wat die vlei laat verkleur;

Van al wat die sonskyn laat spartel;

Van voorjaar en najaar se geur;

Vir my sing maar liefs van die water;

Van duikers wat draf oor die veld;

Van rotse en branders en wolke  -

Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!

 

 

SEKRETARISVOËL

Sekretarisvoël met jou lange bene,

Met jou penne agter die ore styf,

Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?

 

Sekretarisvoël met jou lange bene,

Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,

Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

 

 

DIE KOPERKAPEL

Die koperkapel kom uit sy gat

En sluip die rantjie rond:

‘Dit het gereën; die veld is nat,

En nat is die rooi-geel grond.’

Die meerkat kom, en sy ogies blink,

En hy staan orent en wag.

En die stokou ystervark sê: ‘Ek dink

Die reën kom weer vannag.’

Maar die geitjie piep: ‘Dis glad nie reën!

Dis klewerig, swart en rooi:

Kom jy sulke reën in jou lewe teen –

So glad, so styf, so mooi?’

En die wyse steenuil waag sy woord:

‘Dis bloed, dis mensebloed!

Dis lewensbloed wat hierdie oord

Se bossie-wortels voed.’

 

(Betekenisvol en mooi, né?)