SOET IS DIE STRYD

ID Du Plessis (uit sy Versamelde Verse, eerste uitgawe 1970)

Julle sê die stryd is verlore
Ons nasie te arm en klein
Ons taal uit ‘n drang gebore
Wat een van die dae sal verdwyn?

My broer dit mag heeltemal waar wees.
Wie weet wat die toekoms gaan baar
Miskien moet ons oormôre klaar wees
Om weer hierdie droom te laat vaar.

Maar as ons net altyd moet strewe
Na wat tot oorwinning gaan lei,
Wat baat dan die stryd van die lewe
Waarin ons onseker moet bly?

Solank jou bedoelings maar goed is,
gaan jy jou oor neerlae kwel?
Solank jy volhard en vol moed is –
is tog die probeerslag wat tel!

Nee, soet is die stryd vir die stryer,
want hy het ‘n roepstem gehoor;
Maar die man wat sy deelname weier
Is die man wat sy nasie vermoor.