NOG ‘N SMEKER

E. Van Nantes

" Vir soveel jare reeds vloei ons bloed
Waar die een oorlog na die ander woed
Word ons besteel van plaas en goed
Slegs deur u genade, hou ons nog moed."

Op één dag, het hulle U kom smeek
Dat U op daardie dag, hul kettings sou verbreek.
Sonder harde woord en sonder om te preek
Het U versugtings aangehoor, in die Gadaréner-streek.

Daar het “die baie”, U gevra
Dat die varke hul die see indra.
Daar het die dorpenaars by U kom kla
Wyl die besetene U roep, agterna.

U vaar na die oorkant van die see
En daar kom U vir Jaïrus teë
Hy val voor U neer, hy staan op sy knieë:
“My dogter lê op sterwe, oor U is ek verleë.”

Oppad na sy huis, met die skare wat maal
Kom daar ‘n vrou van agter, om verlossing te haal.
Voor U kniel sy, in haar oë is vrees
Want die aanraking van u kleed, het haar siekte genees.

Wyl U daar staan, ontvang die sinagoge-owerste die woord
“Ons is jammer Jaïrus, maar u dogter is dood”.
Ten spyte van die nuus, stap U net voort
Want sy slaap net, in die lewe is waar sy hoort.

U dryf almal na buite, wie dit wáág om te lag
En almal behalwe gelowiges, die bly in die slag.
Nou hou Pa, Ma en dissipels die wag,
Met “Talíta, koemi!” breek U, die dood se mag.

Vergewe my, maar ek sien ‘n verband
Tussen Markus 5 en die gebeure in ons land
Vergewe my, maar dis met menslike verstand
Dat ek ook kom smeek en soek na U hand.

Ons kerk het nou, nes die Pous, hul seën gegee
Aan hul wat wandel, op die onnatuurlike weë
Ag Vader, hierdie land het ook varke en ‘n see
Wil U nie die kerk van die onreine gees skoon kom vee?

Ons volk het ‘n laagtepunt bereik
Want mag en geld is nou ons koninkryk
Waar soveel van ons van U wegkyk
Besef ons nie hoe ons lewens lyk.

Vir soveel jare reeds vloei ons bloed
Waar die een oorlog na die ander woed
Word ons besteel van plaas en goed
Slegs deur u genade, hou ons nog moed.

Reeds met die Israeliete trek U die lyn
Veertig jaar vir hul oortredings, in die woestyn
Ons is nou maar halfpad uit teen die kruin
Want 21 jaar is reeds verby, die volk al byna verdwyn

Laat u wil geskied met hul wat dink dis ‘n grappie
Maar met die, vir wie die wêreld nie saak meer maak nie
Wie nie skaam is om voor U te kniel en U te smeek nie
Kom bid ek, spreek asseblief oor ons uit “Talíta, koemi!”