Onder hierdie opskrif het die skrywer en digter S. Ign. Mocke in 1948 hierdie pragtige natuurgedig geskryf, waarin hy die Vrystaatse landskap in die omgewing van Bothaville-Odendaalsrus besing het. Dis ons land wat nooit van ons weggeneem kan word nie.
Gee ons die eenvoud om te weet wat ons
aan jou verskuldig is, O land waarin
ons hart geluk gevind het: Uit jou grond
het ons gegroei; jou vertes het
ons oog geleer om ver te sien, die blou
afstand te skeer, oor veld en duin,
oor berg en vlei, tot waar die diep
grys lugte van jou horisonne staan:
Ruim soos jou vlakte, laat wees ons gemoed;
diep soos jou lug, ons siel; helder en hoog
soos die asuur wat om jou einders lê
ons droom. Dit het jy aan ons gegee,
om te behou as onverganklike herinneringe:
Springbokke wat pronk-oop oor die vlaktes stuif,
één vaal beweging in die son; die hoë vlug
van wilde-eende teen ‘n wolkgrys aand;
die breë vlerkspan van ‘n eensame mahem;
beeste wat bulk vér in die aand, wanneer
die kuddus kraal toe kom; skaapgeblêr
wat soos die stem is van jou sagte
windstille skemeraande; winternagte
as die blou maanlig in die spruite staan
of hard en blink oor alles lê, en vér
uit skadu-donker bulte klink die skel,
nagkreet van maanhaar-jakkalse: kommandovoëls
wat in die rante roep; ouvolk wat sedig sit
onsigbaar in die vaal, vlak veld; ‘n bont-korhaan
se skor aandoening; vlakpatryse
in die gras . . .
Kolle brak waarop die sonlig dans en skitter
blinkwit, verblindend; vlak, droë panne
waar eenmaal, as die reën kom, wilde voëls
‘n toeverlaat sal vind; dwarrelwinde
soos spooksels van die droogte, stuiwend teen
jou vér-stowwige verskiet.
Iewers, vanaand, staan aan die oewer van
Een van jou vol riviere, een soos ek,
wat in die troebelvloed van daardie water
sien die sinnebeeld van die snelle noodlotsgang
van ons bestaan: Ou bome kraak
in die stygende geweld, en in die seekoegate
maal en skuim die water; swart stroom
die opdrifsels verby . . .
Al wat ons van jou behou het, is herinnering.
Maar dit sal bly. Wanneer ons sterwe
laat dit die laaste uitsig wees wat ons sal sien:
Springbokke wat pronk-oop oor jou vlaktes stuif,
één vaal beweging in die son; die hoë vlug
van wilde-eende teen ‘n wolkgrys aand;
dwarrelwinde
stuiwend oor jou vér-stowwige verskiet.
Want iewers in jou bulte is
die tuiste van ons siel.