VRYSTAATSE LANDSKAP

 Onder hierdie opskrif het die skrywer en digter S. Ign. Mocke in 1948 hierdie pragtige natuurgedig geskryf, waarin hy die Vrystaatse landskap in die omgewing van Bothaville-Odendaalsrus besing het. Dis ons land wat nooit van ons weggeneem kan word nie.

 

Gee ons die eenvoud om te weet wat ons

aan  jou verskuldig is, O land waarin

ons  hart geluk gevind het:  Uit jou grond

het ons gegroei;  jou vertes het

ons  oog geleer om ver te sien, die blou

afstand te skeer, oor veld en  duin,

oor berg en vlei,  tot waar die diep

grys lugte van jou horisonne staan:

Ruim soos jou vlakte, laat wees ons gemoed;

diep soos jou lug, ons siel;  helder en hoog

soos die asuur wat om jou einders lê

ons droom.  Dit het jy aan ons gegee,

om te behou as onverganklike herinneringe:

 

Springbokke wat pronk-oop oor die vlaktes stuif,

één vaal beweging in die son; die hoë vlug

van wilde-eende teen ‘n wolkgrys aand;

die breë vlerkspan van ‘n eensame mahem;

beeste wat bulk vér in die aand, wanneer

die kuddus kraal toe kom;  skaapgeblêr

wat soos die stem is van jou sagte

windstille skemeraande; winternagte

as die blou maanlig in die spruite staan

of hard en blink oor alles lê, en vér

uit skadu-donker bulte klink die skel,

nagkreet van maanhaar-jakkalse: kommandovoëls

wat in die rante roep; ouvolk wat sedig sit

onsigbaar in die vaal, vlak veld;  ‘n bont-korhaan

se skor aandoening;  vlakpatryse

in die gras . . .

Kolle brak waarop die sonlig dans en skitter

blinkwit, verblindend; vlak, droë panne

waar eenmaal, as die reën kom, wilde voëls

‘n toeverlaat sal vind; dwarrelwinde

soos spooksels van die droogte, stuiwend teen

jou vér-stowwige verskiet.

 

Iewers, vanaand, staan aan die oewer van

Een van jou vol riviere, een soos ek,

wat in die troebelvloed van daardie water

sien die sinnebeeld van die snelle noodlotsgang

van ons bestaan:  Ou bome kraak

in die stygende geweld, en in die seekoegate

maal en skuim die water;  swart stroom

die opdrifsels verby . . .

 

Al wat ons van jou behou het, is herinnering.

Maar dit sal bly.  Wanneer ons sterwe

laat dit die laaste uitsig wees wat ons sal sien:

Springbokke wat pronk-oop oor jou vlaktes stuif,

één vaal beweging in die son; die hoë vlug

van wilde-eende teen ‘n wolkgrys aand;

dwarrelwinde

stuiwend oor jou vér-stowwige verskiet.

Want iewers in jou bulte is

die tuiste van ons siel.