TWEE JUWEELTJIES

Die digter, Leipoldt, was hartstogtelik lief vir die natuur.  Die klein dingetjies daarin het in sy gedigte net soveel aandag gekry as die grotes.  As ek die volgende pragtige gediggie lees, kry ek sommer respek vir die veragtelike huisvlieg!

VLIEGIE

Vliegie, vliegie, fluister
As jy vlieg vir my;
Waar was jy eergister
Waarvandaan kom jy?
Boetie sê jy lewe
Net maar vir ‘n dag
Vliegie, vliegie, fluister  -
Waar was jy vannag?

Slaap jy, vliegie?  Droom jy,
As jy sedig staan?
Vliegie, kom vertel my,
Eér jou dag vergaan.

En hoor hoe belangrik was sysies en krieke en paddas vir hom!

AS DIE LEMOENBOME BOT

Sysie, wat sing in die suurlemoenbome,
Sing nog ‘n versie vir my!
Versies van liedjes wat lag as die lente,
Ressies van deuntjies geleen sonder rente,
Wysies herinner uit lang-dooie drome;
Sysie, kom sing dit vir my!

Kriekie, wat kriek in die kafhok se gerwe,
Kriek nog ‘n keertjie vir my!
Jy, wat gaan dans met kabouters met kroontjies,
Wees my Galuppi, tok-tok met jou toontjies
Fluit die koraal, wat jy oor het geërwe
Kriekie, kom kriek dit vir my!

Padda, wat onder die paddastel bas sing
Blaas jou basuin nog vir my!
Blaas al jou ouderwetse refreine,
Wat ek kan opvang en vashou as myne,
Elkeen iets nuuts, elkeen ‘n verrassing;
Padda, basuin weer vir my!

Borrelvink, borrel, dit is mos jou broeityd,
Sing vir jou maat en vir my!
Kwetter van vreugde, uit liefde kom borrel,
Hef aan ‘n danklied vir elke graankorrel –
Graan is so volop, want nou is dit snoeityd;
Borrelvink, sing weer vir my!

Mooi né!