Deur Bernard Fielies
Afbreker, jy bokspring en huppel soos 'n held,
maar stadig verdrink jy in jou eie geweld...
Jy gaan te kere met knopkierie, knuppel en klip
en laat die land se trane aanhoudende drup.
Jy maak dit duidelik: "Hierdie is mý land",
maar breek dit af en steek dit aan die brand!
Tussen al die vlamme en borrellende rook
word jou toekoms gesluit... met betogings bestook.
Jy toyi-toyi en baklei met bitter en bloed;
jou geplunder maak die paradys kapoet.
In 'n bloeiende land is jou dade barbaars
en 'n gesonde verstand is by jou skaars...
Jy verdruk ons vryheid; wil hiet en gebied.
soos 'n parasiet soek jy alles verniet!
Met jou selfsugtigheid word ons son gestroop
en hyg ons in die duisternis sonder hoop.
Die gekneusde land se veld lyk leeg en dor;
uiter in dorsheid, swaarkry en seer skor.
Die lug is so grys en groenigheid verkleur,
en die mooi in more gewaar ons nie meer...
Afbreker, kermkous...niks sal jou bevry,
want met jou boosheid sal jy in boeie bly.
Verwoesting saai jy in jou skrillende koor
en op die einde bly daar tog niks meer oor...