'n Ieder nasie het sy LAND!
Ons woon op Afrikaanse strand;
Vir ons is daar g'n beter grond
Op al die wye wêreld rond.
Trots is ons om die naam te dra
Van kinders van Suid-Afrika.
'n Ieder nasie het sy TAAL,
Ons praat van Kaap tot in Transvaal
Wat almal maklik kan verstaan,
Wat gaan die ander tale ons aan?
Ons praat soos Pa en Oupapa,
Die landtaal van Suid-Afrika.
'n Ieder nasie het sy WET,
Wat goed gebied en kwaad belet;
En elk se wet is na sy aard
En gaan met sy natuur gepaard:
So volg ons ook die sedes na,
Wat tuis hoort in Suid-Afrika.
'n Ieder nasie het sy REG,
Al is hy nog so swak en sleg.
Daar is een Oog wat alles merk,
Hy sit die onreg paal en perk.
Hy kyk ook ons verdrukkers na
En waak ook vir Suid-Afrika.
'n Ieder nasie het sy TYD
Om op te groei en af te slyt,
En soos ons liewe Heer dit doen,
So is dit altyd wys en goed.
Daar kom 'n dag vir ons ook, ja;
Vertrou op God, Suid-Afrika.