WIE SAL VERSTAAN?

 Jana Haefele, 23 Maart 2019

Hierdie gedig is geskryf vir my pa en twee broers wat boer, nie omdat dit winsgewend is nie, maar oor hulle grond in hulle are het. Hulle is ’n voorbeeld van elke boer se gemoed.

Wie sal ooit die hart van ’n boer verstaan
waar hy stadig kyk hoe alles vergaan,
met ’n sware, sinkende, stukkende hart
voel hy die natuur en dier se roue smart.

Wie sal ooit die traan van ’n boer verstaan
waar hy bewoë, knielend voor die Here staan,
’n boer, verouderd van wind, reën en warm son
hy sou die plante water met sy trane as hy kon.

Wie sal die gebroke liggaam van ’n boer verstaan
waar die hare grys gebleik is en die vel verkoper,
seer lywe, nat van sweet, geskoei deur natuur
om net nog ’n dag as arme boer te kan verduur.

Wie sal die gemoed van ’n boer verstaan
waar die hele land net roep ; rand hom aan,
haat, vernedering, minagting en rassisme
terwyl hulle skree; hier is geen kommunisme.

Wie sal die seisoen van die boer verstaan
plant, swoeg, sweet, vasberade uithouvermoë,
sodat net hy kan sê waar kom voedsel vandaan
in terugbetaling ontvang hy net menige betoë.

Wie sal ooit die trots van ’n boer verstaan
waar hy kom van berg, vallei, vyand en ossewa,
geveg, gebloei, verdedig onder ’n koue maan
sou hy eenman alleen sy volk en land kon dra.

Wie sal die wese van boerwees verstaan
behalwe hy wat in dieselfde skoene staan ...