J P Botha
O maaiers van Gods akker,
Die arbeidsveld lê woes;
En waarom staan jul ledig,
Met sekels rooi van roes?
Jul eet en drink so lekker,
Jul lag en juig so bly –
Maar God die Heer gebied dit:
“Die werkdag gaan verby!”
Kom aan van berg en heuwel:
Begin die môre vroeg,
En draal nie tot die middag –
Reeds is dit laat genoeg.
Kom nou tog vasberade:
Ontsien geen son nog sneeu –
Breek af van die wankelinge,
Van Satan, die oue leeu.
Klim op die berg van wysheid:
Doof uit die luie gees!
Verkondig die Evangelie
Aan sondaars, onbevrees.
Wees wakker in jou arbeid,
Ontvang dan Jesus’ loon:
Ons kry ‘n troue Leidsman,
‘n Louerekrans en kroon!