WINTER

Pieter Botha

Oor die vlakveld het die winter

met sy asvaal hand gegryp,

al die blomme, al die blare,

al die groen gras geel geryp.

Koue weswind met sy waaier

het die stingels fyn geslaan;

op die kaal verarmde vlakte

het daar dampe opgegaan.

Oor my liefde het ‘n winter

sy vernielingswerk gedaan,

en ‘n weswind met sy waaier

het daar stowwe uitgeslaan.