NET EEN MAAL...

J P Botha

Kom drink met my ‘n kelkie wyn,

die soetheid van die muskadel,

voordat die pikswart skaduwees

van donker wolke oor ons snel!

Dan hoef ons weer vir niks te vrees;

dan sprei die son se goudligskyn

gedurig om ons waar ons swerf.

Kom drink, vergeet die werklikheid:

Daar daag ‘n dag dat elkeen sterf.

Kom drink, kom drink met my die wyn –

Daar’s drome in en soet vergetelheid,

asof jy deur die lug se bloute wieg...

Kom laat ons sorge smelt in muskadel

as ons oor hoë berge vérweg vlieg...

Dan sien ons weer die son se silwerskyn,

dan wyk die wolke wat oor ons snel.

Kom drink met my, kom drink, wees bly,

as ek jou van die hemelblou vertel!