Pieter Botha
Donker dae as jou oë
wegdof op die rant,
is dit soos ‘n vuil gedagte
uit ‘n dronk verstand,
staar jou oog in dooie dampe
waar jou hart verdwaal,
waar ‘n goddelose onreinheid
op ons aarde daal.
Helder dae as jou oë
vér kyk oor jou land,
is dit soos ‘n mooi gedagte
uit ‘n diep verstand,
sien jou oog deur sonneligte,
reik tot aan die blou,
waar die hemel sy genade
oor ons aarde hou.