Pieter Botha
O magtige skoonheid, en my hart, hoe klein –
Sag oor die perskeboorde sif die reën
in blink-rein silwerstrale, met die skyn
van ondergaande awendson geseën.
Met purper en ‘n wonder van robyn
versmelt die groen van skoon smarag deureen,
en in die kleureboog met goud omlyn,
dáár voel my siel ‘n heil’ge vreug gemeen.
EK, sterfling uit die stof, wat moet vergaan,
ek, nietige verganklikheid waarin
geen kleur sal skitter as ek grondtoe daal,
hoe onverganklik is my skoonheidsin.
Ek het ‘n siel wat soos die reënboog straal
en self as beeltnis van wat skoon is, staan.