Jan F.E. Cilliers
Nog pragtige gedigte by Gedigte
Stil, broers,
daar gaan 'n man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar's nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.
Die oog,
nou dof en weggesink,
soos vuurvonk kon hy blink -
die arensblik,
die kakie- en renegateskrik.
Die stap en kraggebaar
is nou bedaar.
Is dit jul leier nog, per' ruiteskaar?
Gewis!
en soos hy óns s'n was
en is.
Al is die oog verswak,
hy kyk nog fier omhoog
in jou
soos in sy God se oog.
Al stap hy kromgeknak
en afdraans af,
al klop die hart al flou:
soos altyd is nog nou
elke stap en hartslag trou
tot in sy graf.
En hierdie pure man
jóu kind, Suid-Afrika!
Wat vrees ons dan?
Geseën sal wees
die grond, die bloed, die vlees
wat sulke vrugte dra.
In ons De Wet se gees.
Voorwaarts,
Suid-Afrika!