VIERKLEUR VAN TRANSVAAL

In 1881 toe die vryheid van Transvaal in ons stryd teen Engeland teruggewin is, het SJ du Toit en JS de Villiers hierdie kragtige vlaglied vir ons gegee om met trots en dankbaarheid te sing . Dit vertel op 'n treffende wyse die verhaal van ons stryd en oorwinning:

Die Vierkleur van ons dierbaarland, die waai weer oor Transvaal;
En wee die Godvergete hand, wat dit weer neer wil haal!
Waai hoog nou in ons helder lug, Transvaal se vryheidsvlag!
Ons vyande is weggevlug, nou blink 'n blyer dag!

Met lae lis haal Albion ons vlag verraad'lik neer;
En doen toe net al wat hul kon, dat ons hul vlag moes eer:
"Ons sou dan alles daarby wen, 'n telegraaf en spoor,
as ons die rooi vlag wil erken", maar dit wou ons nie, hoor!

Vier jaar lank het ons mooi gepraat om weer ons land te kry:
"Ons vraag jou, Brit, geen goed of kwaad; gaat weg en laat ons bly!"
Maar toe die Brit ons nog vererg, toe vat ons die geweer.
Ons was al lank genoeg geterg, nou kan ons tog nie meer.

En met Gods hulp het ons die juk van Eng'land afgegooi;
Ons is weer vry, geluk! Nou waai ons vlag weer mooi.
Dit het ons heldemoed gekos, maar Eng'land nog  veel meer.
So het die Heer ons weer verlos, ons gee Hom al die eer.