AFRIKAANS IS ‘N VOLKSTAAL

Johan Dorfling

Tans is Afrikaans onder groot druk by staatsinstellings en ook by ander liggame waar klante of kliënte in Engels begroet word. Die amptenare of verteenwoordigers gebruik dan die ongeldige verskoning dat hulle Afrikaans nie magtig is nie en verwag dat die belastingbetaler of klant of kliënt na Engels moet oorslaan. Afrikaanssprekendes doen dit omdat hulle vriendelik en beleefd is, daardie persoon jammer kry en ook nie “moeilikheid” wil veroorsaak nie.

Die probleem is egter dat Afrikaans sodoende as ‘n algemene taal afgeskeep word totdat dit verdwyn.

Ons moet onthou dat ons nie met daardie persoon onderhandel nie, maar met die munisipaliteit of staatsdepartement of winkel of watter organisasie ookal. Daardie organisasie moet sorg dra dat hy die land se grondwet nakom en iemand beskikbaar hou wat in ons geval Afrikaans kan verstaan en praat. Dit is nie moeilik nie. As ‘n besigheid jou geld wil bekom om wins te maak, moet hy die diens lewer wat daarmee gepaard gaan. Die twee kan nie van mekaar geskei word nie. Dit is verbasend hoe gou die persoon na Afrikaans toe oorslaan as jy vriendelik daarmee volhou, of hoe gou hy/sy ‘n Afrikaanssprekende vind.

Skole en universiteite is nou sterk in die nuus omdat daar geëis word dat Afrikaans misken moet word. Tog word geen anderstalige persoon skade aangedoen nie omdat die betogers steeds onderrig in Engels ontvang soos hulle aanspraak maak en dit verkies. Waarom mag die Afrikaanssprekende nie ook sy keuse maak nie?  Hoekom moet net ons terugstaan en toegewings maak, kastig ter wille van vrede.

Volgens mededelings het van die anderstaliges nou met die Afrikaanssprekendes begin saamwerk om aan Afrikaans die nodige erkenning te gee, soos om die Voortrekkermonument te deel. Hierdie samewerking hou egter ‘n verskuilde gevaar in waaraan min mense klaarblyklik dink. Waarom word dit gedoen? Sogenaamd om vrede en rustigheid by instellings te bewerkstellig sodat die almal hul dienste en studies suksesvol kan voortsit. Let egter op, die anderstaliges gaan voort om in Engels te kommunikeer of in hulle eie tale met mekaar sodat Afrikaans moet doodloop.

Samewerking in ‘n taalgemengde komitee of samesprekings deur verskeie anderstaliges geskied in Engels en dus word Afrikaans verwaarloos. Dit sal juis die onafhanklikheid en voortbestaan van Afrikaans in die wiele ry. Vennootskap in die een of ander vorm deur middel van ‘n ander taal, is die hernude begin van die in onbruik raak van Afrikaans. Uiteraard sal Afrikaanse idiomatiese en eiesoortige woorde en uitdrukkings vir andertaliges onverstaanbaar wees of ander betekenisse hê.

Natuurlik word die ondersteuning en samewerking verwelkom, maar op ‘n ander wyse. Elke taalgroep moet sy eie stryd aanknoop met die verstandhouding dat die ander taalgroepe dit nie sal teenstaan nie. Terselfdertyd sal Afrikaanssprekendes erkenning aan die ander taalgroepe se tale verleen en kan hulle hul eie tale op hul eie manier bevorder.

Hier kan daarop gewys word dat dit vir een universiteit onmoontlik is om een vak by dieselfde universiteit in al elf erkende tale aan te bied. Tans dring die ander volksgroepe daarop aan om hulle lesings in Engels te ontvang. Een universiteit kan twee tale behartig. Mettertyd sal elke taalgroep graag opleiding in hulle eie tale wil ondergaan. Dit kan makliker gereël word daar waar hulle meestal bedrywig is en waar dit vir hulle gerieflik is.