Johan Dorfling
Demokrasie beteken regering van 'n volk deur volkgenote wat deur volkgenote verkies is. Omdat elke volk sy eie taal en kultuur het, behels demokrasie ook vryheid om in jou eie taal opgevoed te mag word, dit te mag praat, lees, skryf, lesings ontvang, eredienste by te woon, te mag bid, en so meer. Dit word deur 'n grondwet beskerm.
Vanselfsprekend is dit 'n reg, nie net van Afrikaners nie, maar van alle volkgroepe in Suid-Afrika en in die wye wêreld. Volkbewustheid is die wesentlike bestaansreg van elke volk met demokrasie as die anker. Vra aan die Zoeloes en Kôsas en Tswanas en enige ander volk of hulle bereid is om hulle taal en kultuur te versaak deur dit vir 'n ander te verruil en onmiddellike weerstand, selfs vyandigheid word ervaar. Heeltemal tereg.
Na 1994 het Afrikaanse skole ingewillig, soms teensinnig en onder dwang waar dit met groot ongerief sou geskied, om kinders van ander volke te huisves. Volgens opvoeders van ander volke wou hulle hul kinders aan 'n hoër standaard van onderrig blootstel. Die beginsel is te verwelkom, en erkenning van die blankes se beter onderwysaanbieding, want dit is 'n ingeboude deel van ontwikkeling. Ongelukkig het dit gepaard gegaan met onbeheerde toestroming en toe kom die eise.
Die Afrikaanse taal moet ingeboet word ter wille van Engels wat nie eens die eisers se moedertaal is nie.
Nou word Afrikaans by die barmhartige en weldoenerskole afgeskiet en 'n volk se moedertaal veronagsaam. Toets dit van die ander kant af. As Afrikaanse kinders by 'n ander volk se skool wil inskryf en dan vra dat daardie skool se onderrigtaal Afrikaans moet word, sal die Afrikaanse kinders en ouers van moedswilligheid en kwaadwilligheid beskuldig word. Hoe dan nou?
Volkbewustheid word deur kwaadwilliges gekoppel aan rassehaat en diskriminasie. Diskriminasie word deur diesulkes aan onderdrukking gekoppel, tog beteken die woord letterlik om te onderskei, ook wat taal betref, nie om te onderdruk nie. Die huidige regering en betogers teen al wat Afrikaans is, onderskei juis wanneer hulle die Afrikaanse taal en die Afrikanervolk uitsonder. Die bewering dat die Afrikaners onderdrukking toepas is ver van die werklikheid omdat hulle die afgelope 24 jaar nie die land regeer nie en ver in die minderheid is.
Waarom is vyandiggesindes so gevoelig? Waarom onderskei hulle tussen tale bloot om afbrekend te wees teenoor weldoeners wat hulle goedgesind is? Vir my is die antwoord duidelik, maar voordat ek onbillik van rassehaat beskuldig word, laat ek dit aan elkeen se redekundige denke oor.
Rassevermenging beteken uitwissing van 'n volk. Hulle taal, kultuur en begrippe raak verlore, sowel as hulle herkoms wat vir hulle kosbaar is. Is dit demokrasie, vryheid om 'n volk uit te wis deur hulle van volkregte te ontneem?
Alle samesyn op gesellige wyse en in vryetydbesteding soos sport en op kerklike gebied stuur noodwendig op rassevermenging af. Dit kan op geen wyse gekeer word nie, veral wat die kinders en vatbare jongmense betref. Op hierdie wyse is andertaliges en ander volkgroepe besig om hul eie tale, kulture en oorsprong af te breek sonder dat hulle dit besef.
Dit is altyd 'n voordeel as iemand 'n tweede taal ken. 'n Mens het twee hande waarvan een sy regterhand (of linkerhand = vaardigste hand) is. As iemand twee tale ken, is die een sy regterhand en die ander een sy linkerhand. Watter taal sy moedertaal is, kom duidelik na vore wanneer hy ‘n toespraak in die een taal maak en dan oorslaan na die ander taal. Hoe goed hy ookal in albei tale onderleg is, sy moedertaal staan altyd uit wat betref vloeiendheid, woordeskat, begrip en uitspraak. Daarom presteer kinders beter in hulle moedertaal. Waarom word gepoog om alle kinders, wit en swart, van die voordele van hulle eie taal te ontneem? Alle swart volke se kinders word van hulle taal en volkseie beroof as hulle aangemoedig of gedwing word om Engels as taal aan te neem.