Lees reeks by AFRIKAANS IS EIESOORTIG
Johan Dorfling
Daar bestaan ‘n neiging om veral Romaanse terme in Afrikaans op te neem. Dit verryk kastig ons taal, maar eintlik het dit ‘n afbrekende gevolg. Byvoorbeeld, die woord kwotasie (prysvasstelling, prysbepaling, raming, opgawe, notering) is tot slegs 'n klompie jare gelede deur die Taaldiensburo as ongewens en onaanvaarbaar beskou. Vandat kwotasie toegelaat is, het die ander vyf woorde in onbruik geraak. Is dit taalverryking?
Intussen word Afrikaans se aard verder vernietig deur woorde soos “steak”, “okei” en tjips en boks in daardie sin. Die Engelse "golfer" is as gholfer blykbaar die jongste toevoeging deur sommige Afrikaanssprekendes tot gebruiks-Afrikaans in plaas van gholfspeler. ‘n Lang lys kan hieroor opgestel word.
My standpunt is dat ons in Afrikaans so ver as moontlik by die Dietse taalgroep as omgangstaal behoort te hou. Dit is waar Afrikaans se wortels lê.
Wat Romaanse woorde betref, taxi kom uit Frans en beteken letterlik huurmotor. 'n Mens kan 'n motor huur met of sonder 'n bestuurder. Daar is niks mee verkeerd om van huurmotor te praat as iemand anders dit bestuur nie. Jy huur nie 'n rit nie. Gee jy die rit terug as jy dit klaar gehuur het? Jy betaal vir die rit. Waarom gebruik mense die vreemde woord tsoenami terwyl seevloed die ramp presies beskryf? Moontlik om geleerd te klink?
Daar is slegs regverdiging vir die oorneem van Romaanse terme en woorde as daar 'n leemte in Afrikaans bestaan wat nie gevul kan word nie. Dit is as ons nie in staat is om eie beskrywende woorde of benaminge te skep nie. Dit gebeur egter met die hoogste uitsondering. Maklike boedeloorgee moet dit egter nie wees nie. Uitsonderings bied verskoning om oppervlakkig te dink. Alle Romaanse woorde is egter nie ongewens nie as daar byvoorbeeld net een ander gelykbetekende Afrikaanse woord van Dietse afkoms bestaan, anders is dit regtig eng. Tog is versigtigheid die moeder van wysheid.
Daardie vakgebiede wat Romaanse, of Germaanse sowel as Romaanse skeppings voorstaan, behoort aangemoedig te word, indien nie verplig nie, om eerstens bevrediging in die Dietse tale te soek of self goeie beskrywende terme te skep soos reeds aangetoon. In plaas van sellulêre telefoon, wat vir ons vreemd op die oor klink, kan kleinfoon of iets anders gevind word. Dit gebeur wel soms. Die Nederlanders praat van 'n berig stuur (SMS) en dit is nie verwarrend nie omdat berig slegs een ding kan beteken as jy dit na 'n telefoonnommer stuur. SMS is in elk geval nie beskrywende Afrikaans nie omdat 'n Engelse afkorting vir ‘n stelsel is en 'n stelsel nie gestuur word nie. Beriggewers (joernaliste en omroepers) is hier die groot oortreders. Wat is daarmee verkeerd om ‘n teks te stuur?
Dit is nie net Engels waarvoor ons bang moet wees nie. Woorde uit ander tale word myns insiens te maklik aanvaar om van Afrikaans eerder 'n internasionale taal te maak waarop ons nie so trots sal wees nie. Onder andere word limitasie, pavement, deserteur, deklarasie, benefisiant, rektifiseer, spektator, palpitasie, interrupsie, triviaal en nog talle ander reeds wyd gebruik omdat dit Latyns van oorsprong is. Mense wat nou daarteen probeer skop, het reeds onder andere die woorde informasie, infiltrasie, temptasie en perfek aanvaar ten spyte daarvan dat dit ook uit Latyn of Frans afkomstig is. Dit is mos dubbele standaarde, of het hulle nie besef wat die gevolge sal wees nie?
Prof Luigi Cavalli-Sforza van die Universiteit van Stanford het in 2001 in 'n boek getiteld "Genes, Peoples and Languages" geskryf dat daar vandag sowat of byna 6 000 tale bestaan wat uit sowat 17 oorspronklike tale ontwikkel het. Dit is sekerlik moeilik om tale te tel omdat alle tale nie by almal dieselfde erkenning kry nie.
Ten spyte daarvan dat Afrikaans 'n jong taal is, het verskeie woorde al verouderd geraak en word baie woorde wat in die taal opgeneem is, tans weinig gebruik en sal dit ook binnekort as verouderd beskou word. Ek verwys na woorde soos nassent, pulwer, erlang, klokkenis, kattebak, weduvrou, geskaf, lor en komhalertjie om net enkeles te noem. Hierdie woorde is deesdae onbekend omdat dit verdring is en klink vir sommiges vreemd op die oor, terwyl dit goeie alledaagse woorde was. Dit is kunsmatig om nuwe woorde by te bring indien daar nie nodigheid voor is nie. Al waar ons woordeskat uitgebrei behoort te word, is wanneer daar nuwe terreine ontwikkel het soos rekenaartegnologie. Selfs dan moet beskrywende Afrikaanse woorde/benamings gevind word en nie klakkelose oorname van vreemde woorde nie.
Afrikaans is 'n beskrywende taal en beskrywend is een van die eienskappe wat behou moet word om die taaleie te behou. Daar is mense wat sê dat 'n mens nie pedanties met jou taalgebruik moet wees nie, dit is, jy moenie te veel gewig heg aan boeke en taalreëls nie. So 'n uitgangspunt het tot gevolg dat taalgebruikers minder omgee, al hoe meer van reëls afwyk en minder gedissiplineerd raak. Hulle begin die houding inneem dat fyn taalgebruik nie so belangrik is nie; juis wat die taal laat agteruit gaan. Elkeen kan nie sy eie reëls maak soos hy wil nie. (Dit beteken dat elke speler van sportreëls mag afwyk en die skeidsregter moet dit toelaat). Taal is 'n wetenskap en moet aan eenvormige beginsels voldoen. Daar moet ‘n standaard wees.
In sommige onverskillige onpatriotiese kringe word beweer dat Afrikaans nie bestaansreg het nie omdat dit kwansuis 'n " inferieure detoriasie van originele superieure" tale is en saamgeflans is.