Lees reeks by AFRIKAANS IS EIESOORTIG
Johan Dorfling
Sommige taalgeleerdes is geneig om te beweer dat 'n bepaalde woord nie uit Engels ontleen is nie. Dit is dan sogenaamd 'n oorspronklike Latynse of Franse woord wat ook in die Engelse taal opgeneem is. Ongelukkig is dit 'n skewe waarheid, want die mense wat die bepaalde woord begin gebruik, het dikwels geen kennis van Latyn of Frans nie. Vir hulle was dit deur en deur 'n Engelse woord. Waarom word minder woorde deesdae uit Nederlands of Duits ontleen? Omdat dit nie in Engels opgeneem is nie. "Grand Prix" kom vir ons uit Engels. Die Duitsers en Nederlanders en Vlaminge gebruik die benaming "Groot Prys" in hulle eie taal en dit is ook aanvaarbaar in Afrikaans omdat dit die presisie betekenis is. Waarom moet ons 'n woord uit Engels (of dan Frans) oorneem as dit nie 'n Afrikaanse inslag het nie? Waarom nie uit Nederlands of Duits oorneem nie?
Deesdae is daar 'n neiging by wetenskaplikes om diere en plante so te beheer dat hulle nie verbaster of verdring word nie. DNS-toetse is aan die orde van die dag en indringerplante word hand en tand beveg. Dieselfde neiging behoort by taalkundiges inslag te vind as hulle met ontwikkeling en bewaring op die voorpunt wil wees. Indien hulle dit nie doen nie, sal Afrikaans oor tien jaar meer "verbaster" wees as wat hulle ooit voorsien het, want die neiging sal sonder twyfel sneeubal. Geen stelsel kan ooit stilstaan nie. Dit gaan óf vorentoe óf agteruit.
Wat my geprikkel het, was dat almal wat Afrikaanssprekend is in die vorming van die taal gedeel het. Die vryburgers en later die Voortrekkers was nie juis belese mense nie, tog het hulle baie bygedra tot die totstandkoming van Afrikaans. Dan kom dit by my op: Moet ons 'n taal so ingewikkeld maak dat die gemiddelde taalgebruiker hom ontuis voel? Dit is uiteraard 'n wêreldneiging dat tale eenvoudiger word soos byvoorbeeld dat selfs die Duitsers hulle al hoe minder aan die bepaalde lidwoorde (der, die, das) vir manlik, vroulik en onsydig steur, dog die benamings bly dieselfde sonder die lidwoorde.
Ek hoor dikwels dat gesê word dat die jongmense van vandag ons taal vermeng en die groot "sondebokke" is. Een fout wat hierby gemaak word is dat met sondebokke bedoel word dat die jongmense die skuldiges is, maar die regte betekenis van sondebokke is dat hulle onskuldig beskuldig word. Daar word eintlik bedoel dat die jongmense die skuldiges is.
Dat alleen jongmense skuldig is, is ook nie juis nie. Luister na die ouers en ouer persone wat praat van (mans) "tools", "tool-box", "gears", "fire-lighters", "charcoal", "tackle" (in rugby), "score", "hose-pipe". "weed-eater" en nog baie ander. Die vrouens praat van "flower", "baked beans", "lip-ice", "tape", "heater", "bye", om maar net enkeles te noem. Hulle kom nie eens agter dat hulle geradbraak praat nie. Dis die ouers wat hulle kinders van jongs af moet leer om trots op Afrikaans te wees en suiwer te praat, maar self handhaaf hulle Afrikaans nie trots nie. Daar is oorgenoeg woordeboeke om leiding te vind. Dus is die ouers die skuldiges.
Ons gebruik Afrikaans baie meer as enige ander vak soos biologie, godsdiens, geskiedenis, sport of enige belangstelling omdat ons heeldag in Afrikaans dink en praat wanneer ons op enige gebied beweeg. Tog besef ons nie dat Afrikaans elke keer aanvullend tot alles is. Sonder taal kan ons nouliks met mekaar kommunikeer. Ken u die betekenisse van alledaagse woorde?
Lewendige ammunisie is onbetwisbaar Anglisisties. Skerp ammunisie, soos ook skerpskutter, is korrekte Afrikaans.
Lewendige kan ook lewende beteken en word in bepaalde omstandighede as 'n sinoniem beskou, maar beteken ook opgeruimd of energiek. Lewendige uitsending is dus nie die korrekte beskrywing nie, maar regstreekse uitsending.
Om 'n bal in byvoorbeeld rugby lewendig te hou is ook 'n Anglisisme. Die bal word in spel gehou. Die bal kan tog nie lewend of opgeruimd wees nie.
Ook in rugby kan 'n bal nie versprei word nie omdat dit nie verdeel kan word nie. Pamflette word versprei, rose versprei 'n geur, 'n verwarmer versprei hitte. 'n Bal word aangegee of uitgegee.
'n Verdagte oorhandig homself nie aan die polisie nie, soos al verskeie kere oor die radio gehoor. Hy gee homself nie met die hand aan/oor nie of lewer homself nie af nie.
'n Motorvoertuig word nie gediens nie, maar versien. Diens is nie 'n werkwoord nie.
Parte is verkeerd as onderdele bedoel word.
Benodig kan ook nie as 'n werkwoord gebruik word nie. Iets is nodig of iemand het iets nodig.
In HAT staan duidelik dat kontak as 'n werkwoord Anglisisties is. Jy kom in aanraking met iemand of tree in verbinding met hom of maak kontak.
'n Radio word afgesit as dit van die tafel af op die vloer neergeplaas word. Andersins word dit afgeskakel. 'n Lig word ook afgeskakel. Gewoonte moenie 'n taal laat ontaard nie.
Die jongste uitgawe van 'n boek of tydskrif is korrek en nie nuutste uitgawe nie.
Angstig, afgelei van die woord angs, beteken om bang te wees. As "anxious" bedoel word, is dit 'n Anglisisme. Gretig is dan die regte woord.
'n Prokureur en 'n bank het kliënte omdat hulle diens lewer. Winkels wat goedere verkoop het klante.
Stappe word nie geneem nie, maar gedoen, tensy jy die stappe kan optel en vir jouself neem.
As iemand met siekverlof is, beteken dit dat die verlof siek is. Siekteverlof of siekeverlof is die ware Jakob.
'n Vorm wat voltooi moet word, is nog nie heeltemal opgestel nie. Nadat dit voltooi is, moet dit nog ingevul word. "Complete a form" as invul bedoel word, is ‘n wanbeskrywing.
'n Inligtingstuk of brief op 'n rekenaar word nie uitgedruk nie, maar gedruk.
Waterkant is die Afrikaans vir "water-front".
Daar is nog talle ander voorbeelde waar mense hulle onkunde van Afrikaans aan ander toon. Wat my dwars in die krop steek is dat mense dikwels beweer dat hulle nie fout vind nie met uitdrukkings soos "na die beste van my vermoë" (na my beste vermoë), "op 'n stadium" (in 'n stadium), " 'n vorm voltooi" (invul), "angstig" (gretig), en so meer. Dit is omdat hulle nie die taalfout besef nie omdat hulle daaraan gewoond geraak het om dit verkeerd te gebruik. Luister hoe mense hieroor stry omdat hulle hulself probeer verdedig.
= EINDE