Johan Vosloo
Lees reeks by Stories vir almal
DIE HOENDER-ENTREPRENEUR
‘n Ou maat, jare laas gesien of van gehoor, daag anderdag by my op in ‘n lang, plat kar. Die beeld wat hy skep, is een van ‘n man wat dit breed het. Hy het minstens drie goue ringe aan, ‘n goue polsketting en ‘n goue horlosie. Dit blink net.
Nou vis ‘n man maar uit wat die maat doen want so ‘n plat kar en baie goud spreek van groot geld. Gou blyk dit dat dit wel die geval: die maat rol as’t ware in die note, lei jy aan sy praat af.
Hy vertel met groot gesag, terwyl ek aan sy lippe hang, dat ‘n man hom nie self ryk kan werk nie. Dis net die eerste slag om aan die gang te kom, wat daar bietjie gesweet moes word.
“Nou hoe dan”, wil ek weet, want ek is dit anders in die kop geboender. “Net eerlike harde werk bring jou bo”, “daar is geen kortpad na welvaart nie” en “verdien jou brood in die sweet van jou aangesig”, is ‘n mens mos vroeg al ingeprent.
Die maat sit toe ewe terug in die stoel. Ek kry die idee hy is jammer vir my.
“Nee, ou pel, ryk werk op eie stoom is nie moontlik nie. Die geheim is dat ander jou ryk moet werk.”
Ek is die ene ore.
“Jy sien ou pel, as jy honderd mense kry wat net een persent kwaliteit-tyd vir jou gee om jou ryk te maak, het jy honderd persent kwaliteit-tyd. Wat wil jy nou meer? Dis wat ek sê: kry ander om jou ryk te maak. Al try jy net tien, wat tien persent van hulle gee, het jy ook jou honderd persent. Easy done!”, sê die maat.
Sulke ekonomiese wysheid tref jou voor die kop. Hoe op aarde het jy dan nog nooit daaraan gedink nie?
Terwyl ek nog sit en peins oor presies hoe ‘n man jou medemens kan inspan om jou ryk te maak, vertel die maat dat ‘n mense natuurlik ook “’n kop op jou lyf moet hê” en dat ek dit nie “te persoonlik” moet opneem nie.
Om te verduidelik wat hy met “kop op die lyf” bedoel, vertel hy my toe hoe hy kort nadat hy varsity opgeskop het, besef het hy sit eintlik met ‘n besigheidskop wat skrik vir niks.
Toe vertel hy van die eerste en laaste keer dat hy al sy eie tyd – en kop – ingespan het om geld te maak. Hy vertel dat hy gehoor het dat swart mense verkies om ‘n hoender met vere te koop. “Selfs al is die hoender dood, verkies hulle ‘n nog geveerde hoender’, het hy gehoor. “Dit lyk mos sommer nog vars.”
Nie te lank nie, en die geleentheid duik op dat hy sy pas verworwe kennis oor die verkoopkrag van hoenders met vere in die praktyk kon toepas.
In die verre noorde by Moria, is daar jaarliks ‘n groot kerksaamtrek waarheen duisende swart gelowiges tydens die Paadnaweek opruk. En natuurlik moet hulle eet. En as daar mense is wat nogal lief is vir hulle hoender, dan is dit hulle, sê die maat.
Hy sê hy huur toe ‘n lorrie met ‘n kap op, amper so iets soos ‘n meubellorrie, net ‘n bietjie kleiner. Hy ry toe na ‘n groot hoenderplaas en koop elke hoender op. So 10,000 hoenders, sê hy. En omdat hy so baie betaal hy net R3 vir ‘n hoender wat daardie tyd ook ‘n winskoop was.
Omdat hy soveel moontlik hoenders vir Moria wou laai, en omdat daar so iets soos ‘n Dierebeskermingsvereniging is, kap hy toe eers elke hoender se kop af. Man alleen, soos ek verstaan.
Hy gooi hulle toe almal opmekaar agterin. So vol pak hy die lorrie met die hoenders sonder koppe dat hy beswaarlik die deur toegedruk kon kry. Toe vat hy die pad Moria toe.
Daar aangekom, is dit juis etenstyd na die oggend se lang diens. Hy sê hy maak die bak agter oop sodat die kerkgangers die hoenders sonder die koppe, maar nog met vere aan, kan sien. En die hoenders val sommer so uit toe deur oopswaai.
Skaars sien die kerkgangers die geveerde hoenders sonder koppe, of hulle maak een lang tou om te koop. Hy vra net R6 ‘n hoender, wat ‘n oulike winsie was. ‘n Skoon honderd persent winsie. En omdat daar by Moria groot vure gepak is vir die kerkgangers om kos op te maak, word die hoenders net daar gepluk en in die groot swart driepootpotte gaargemaak.
“Ou pel, ek sê vir jou, nie ‘n uur en en half nie, toe het ek al die hoenders verkoop. Net ek! Dit was die laaste keer dat ek op my eentjie in die sweet van my aangesig my brood verdien het. Daarna het ek ander mense se tyd gebruik om my ryk te maak.,” vetel die maat en sit diep terug in die stoel. Hy streel genoeglik oor sy maag.
“Dit klink alles maklik”, sê hy. “Maar soos gesê, jy moet eerstens darem die kop hê om die planne te bedink voor jy so ‘n flying start kan kry oppad na rykdom.” Hy bedoek dit nie persoonlik nie, voeg hy by. Ek staan nederig voor hom.
Toe groet my suksesvolle maat en hy is daar weg in sy plat kar voor ek nog vir hom ‘n vragie of wat kon vra.
Soos: Hoe verkoop jy 100,000 hoenders binne ‘n uur en ‘n half – in negentig minute? Beteken dit dan nie dis sowat 111 hoenders per minuut, of byna twee hoenders per sekonde nie? En dit man alleen?
Maar vir sulke skerp vrae is my kop mos altyd net ‘n uur en half te stadig...