STORIES VIR ALMAL (4)

Johan Vosloo

Lees reeks by Stories vir almal

ONDERDEURGESPRING

“ONDERDEURGESPRING” noem ons dit as jy gefop is, ore aangesit is, of vir ‘n “ride” geneem is.

Dink maar aan die kêrel wat bereid is om teen ‘n baie billike prys vir jou ‘n wendyhuisie in die tuin aanmekaar te timmer. Hy kom met sy bakkie, laai die eerste paar planke af en neem dan sommer die deposito-tjekkie met hom saam.

Dankie. Dis die laaste sien van die blikkantien, hoewel ‘n ander woord meer gepas sou wees.

Hierdie modus operandi herhaal die vent met die oop gesig en gladde bek ‘n slag of tien, twintig keer. Daarna verkas hy, goed in die geld, eenvoudig na ander weivelde toe. So maklik is dit.

As hy dit gerade ag om van nering te verander, kan jy maar seker wees hy word ‘n boukontrakteur. Hy grawe die fondasie van die huis en meng sy sement en klippers en lê die eerste rytjie stene. Intussen vra hy ‘n voorskot-tjekkie hier en nog een daar, en jy betaal maar want jy wil tog net dat die gebouery asseblief moet klaarkom.

Dan, eendag op ‘n reëndag, verdamp die “boukontrakteur”. Nie verdamp soos verdamp nie, nie skoonveld nie, want êrens op ‘n ander plek is hy besig om een of ander Sareltjie se huis se fondasie te grawe met die eerste voorskot-tjekkie reeds in sy sak. Waarskynlik het hy nie net die eienaar liederlik om die bos gelei nie, maar is daar ook ander slagoffers.

Op ‘n keer luister ek na die klag van ‘n man oor die “meneer wat nie reg gemaak het nie”. Dit blyk dat die “meneer” hulle elke oggend voor ‘n besigheidskompleks opgelaai het om fondasies te gaan grawe. Die “meneer” se groot kantoor sou dan in die gebou wees, het hy hulle laat verstaan. Hulle het hom geglo, want hy het in die oggende uit die gebou gekom en na sy bakkie oorkant die pad gestap, waar die werksmense reeds op hom gewag het. Kom Vrydag en betaaldag, dan kry hy hulle voor die gebou en sal hy regmaak. Laaste sien...

En die Maandag daarop laai hy sweerlik weer ‘n ander klomp werkers voor ‘n ander imposante winkelsentrum op (waaruit hy natuurlik flussies verskyn het) en hulle gaan grawe fondasies op ‘n ander plek in die Kaap. En so kan hierdie javel ewig aangaan, so lyk dit my.

Ek word nou nog deur my buurman verkwalik oor my raad hoe om goeie huurders vir sy vakansiewoonstel te bekom. Ek het met groot stelligheid gesê dat as hy “seker wil maak van gehalte-huurders”, hy in die Kerkbode moet adverteer.

Hy maak toe so en sy blydskap was groot toe ene dominee Van Coller (skuilnaam) bel en sê dat hy en mevrou-dominee graag die plekkie vir twee wekies wil huur. Hulle kort so ‘n blaaskansie by die see, vertel die dominee.

My maat sê Dominee daag toe daar op en hy spreek hom aan as “broer”. Hy sê hy kon in Dominee se gesig en in sy rooierige oge sien dat hy regtig ‘n blaaskansie verdien.

So met die eerste oogopslag lyk dominee Van Coller wel nie vir hom na ‘n dominee soos dominee Verdoorn of dominee Malan nie, nie dié soort wat hy ken nie. Maar die man het ‘n wit das aan en hy praat mooi gemoduleerd en hy dag toe Dominee het seker maar êrens langs die pad liggies met engel Gabriel geworstel.

My maat sê hy moes, toe hy merk dat die vriendelike mevrou-dominee met die rooi lippies ‘n pakkie Stuyvesant in die hand klem, halt geroep het met die uithuur, maar dis nou slimwees na die tyd.

Hy gee vir Dominee die sleutels van die woonstel, neem die pastoriepaar deur elke vertrek en staan toe en wag vir die deposito-tjekkie.

Dis of Dominee dadelik snap want hy sê: “Broer, ons maak die einde van die week met die geldjies reg, sommer op een slag vir die twee wekies.”

En maat sê: “Reg so Dominee.”

Hy sê, nie twee dae later nie, toe bel die bure in die woonstelblok en sê die pastoriepaartjie is soms bra luidrugtig deur die dag, en teen laataand word daar hoog ten hemele en laat onder die rok in geskel.

Maat, goeie mens wat hy is, dag toe die bure se ore is onnodig skerp ingestel Hy ken hulle maar so, altyd vitterig oor alles. ‘n Predikantspaar kan seker ook maar weg van die gebroeders kerkraad af die kuif so ‘n raps by die see laat hang, hoekom nie?

Toe die einde van die eerste week van die Van Collers se vakansie aanbreek, is die verhuurder sommer vroeg-vroeg daar vir die “op-eenslag-tjekkie”.

Hy vind die voordeur oop met die sleutels aan die binnekant. Van die Van Collers is daar nie ‘n teken nie.

En my maat sê wat hy toe ook sommer dadelik agterkom toe hy sy oog besorgd deur die kombuis en sitkamer laat dwaal, is dat Dominee en mevrou-dominee die week ‘n geweldige worsteling met Bacchus moes gehad het!