WATERBOBBEJAAN (1)

 Ben Venter

Lees reeks by Waterbobbejaan

VOORWOORD

Sakamatlakobata is in 1956 oorlede. Hy was toe al in die tagtig.

Hy was my oupa. Vir hom en sy Marico-vriende was Waterbobbejaan nie ‘n sprokie nie. Hulle het hom “met hulle eie oë gesien”.

Oom Paul Raaswater en oom Stoffel Wolf (Snyman) was broers. Oom Paul Raaswater kon nie saggies praat of lag nie. Hy het ‘n geweldige stem gehad. Van hom word vertel dat hy ‘n paar kilometer ver gehoor kon word as hy op ‘n reënerige dag na iemand geroep het.                                                                  

Oom Stoffel Wolf het baie selde aan sy hare of baard geskeer. Gedurende die Driejarige Oorlog het hy ‘n verdwaalde Engelsman in Marico se bosveld gevang. Toe hy hom by sy kommandant bring, sê die Tommie: “I expected this. In war these things do happen. But please tell me: WHAT caught me?”

Hierdie twee ooms se neef was oom Koos Hamerkop. Voor die Driejarige Oorlog was hy die kommandant van Marico se wyk. Gedurende die oorlog was hy generaal JP Snyman met wie Baden-Powell aspaai gespeel het by die beleg van Mafeking.                                                                                                                      

Oom Hans Meerkat (Coetzee) is in die dertigerjare oorlede. Sy sesde vrou het hom oorleef. Die Coetzees was verdeel in die Meerkatte, die Skilpaaie en die Brakke.                                                                                                                                  

Oom Koos Kraak (van Staden) is iets meer as ‘n dekade gelede oorlede. Hy was van diederdae af katkisasiemeester in Marico se wêreld. Een Sondag het hy uit die Hollandse Bybel voorgelees van Dawid wat (toe Saul hom agtervolg) gesê het: “Er is maar een schrede tussen mij en den dood.” Toe die kinders hom vra wat ‘n “schrede” beteken, antwoord hy: “Dis maklik. Schrede beteken: ‘n skreeutjie. Jy gee net ‘n skreeutjie en dan is jy dood.”      

Rabasetsana (van Wyk) het deur sy bemiddeling die Dinokanagebied vir kaptein Calvyn en sy volgelinge verkry. Hy was Sakamatlakobata se skoonpa. Toe my pa en ek in 1943 na Dinokana is, het die jong kaptein, (kleinkind van Calvyn) my pa verwelkom as die kleinkind van Rabasetsana en kind van Sakamatlakobata, sy oupa se vriende. Ons het daar die “ereburgerskap” van Dinokana gekry. “Dis julle familie se eiendom ook.” Die voorvalle wat aanleiding gegee het tot die geskenk van hulle eie gebied leef voort in hulle folklore. Maar dis weer ‘n ander storie. Al die ooms wat genoem is was vriende en sommige ook verlangs familie. Maar hulle het opstandig geraak as mens verneem het of hulle en hul ander vriend, Waterbobbejaan, nie ook op ‘n manier verwant is nie.                                                                                                 

Die laaste wat ek van Waterbobbejaan gehoor het, was teen die einde van 1965. Toe het twee seuntjies hom op die plaas Leeufontein teëgekom, tussen Koster en Swartruggens. Die berig het in Die Vaderland verskyn. Die eienaar van die plaas het aan die verteenwoordiger van die koerant gesê dat die ou al jare lank daar rondloop en niemand pla nie.                                                                      

Hy het sy vriende dus oorleef. En wie weet, miskien verlang hy op ‘n maanligaand na ‘n geslag wat hom waardeer het.                                                              

Die koerantberig was vir my ‘n interessante bevestiging van ‘n storie wat van ver af kom, ‘n storie wat ek winteraande voor die es in Lichtenburg gehoor het as die uitgespitte turf van die vlei rooi gegloei het.                                                               

Dit is vir my interessant dat hy én mev. Ples in die dolomietveld aangetref is: Die grot- en waterwêreld.

LYTTLETON

1968

DIE SKRYWER

Maricodistrik, 1898

Toe Sakamatlakobata en sy gesin die plaas betrek, was die opstal en die tuine in ‘n gehawende toestand. Die vorige eienaar het dit ‘n paar maande vantevore ontruim en die wind, weer en wilde diere het die aanleg verniel. Miere het die takheining om die fyntuin en die boord laat verkrummel. Die koedoes, rooibokke, steenbokke en duikers het alles opgevreet wat die boer hier geplant het. Die vrugtebome is so verniel dat hulle uitgehaal sal moet word, hulle sal fatsoenloos wees as hulle uitloop.

Die rousteenhuis se vensters is uit. Die deure het verdwyn en die grasdak het ingestort.

Die nuwe intrekker draai sy grahamstadterwa se briek aan en bekyk die opstal en werf. Hy is kort van draad en vererg hom onmiddellik.

“Die duiwel en sy kleintjies het hier nes gemaak,” is sy eerste woorde.

“Span uit!” beveel hy sy drie seuns. “Sanna, jy en die dogters moet begin vuurmaak en koskook. Ek gaan solank die spul bekyk.”

Hy stap in die woonhuis in en sien dat die skade darem nie te groot is nie. Die mure is nog stewig, al is die pleister verniel. Die fondamente is deeglik van klip gebou. Die woning het ook baie en groot vertrekke.

“Binne ‘n paar weke, as ek met jou klaar is, sal jy anders lyk,” sê hy hardop. Sakamatlakobata (“Hy wat jou met krag teen die grond gooi”) weet waarom die vorige eienaar die grond so goedkoop verkoop het. Maar hý sal die plaas bewoonbaar maak.

Die seuns het intussen die osse laat suip by die spruitjie wat ‘n entjie van die werf af verbyvloei.

Die boer gaan kyk hoe die vee drink, maar intussen is hy besig om ‘n waardering te maak van die skade wat aan die huis aangerig is, en die tyd wat dit sal kos om alles te herstel. Toe stap hy wa toe.

“Bring die byle. Ons moet gou gaan takke kap om ‘n tydelike skerm vir die vee op te slaan. Mens weet nie wat alles hier in die nag rondloop nie.”

Die boer is nie ‘n lui man nie. Inteendeel, hy is so hardwerkend dat hy dikwels ‘n graaf of pik uit ‘n werker se hande neem en dan verder werk, terwyl die jong staan en toekyk.

Laat daardie agtermiddag het hulle ‘n taamlike digte takkraal gehad wat aan die vee tydelike skuiling kan verleen.

Net voor sononder het hy en sy seuns ook twee tente opgeslaan waarin die seuns en dogters die eerste paar weke moes slaap, hy en sy vrou slaap in die watent.

Toe die son ondergaan het hy en die seuns hulle in die stroom gaan was en by die vuur gaan sit en wag vir hulle kos.

“Dis die eerste aand op ons nuwe plaas. Ons ken die plek nog nie. Nie een van ons moet vannag te vas slaap nie. Julle seuns moet die vuur kort-kort stook, sodat hier genoeg lig kan wees om die wilde diere weg te hou,” het hy na aandete beveel.

Maar die dag se lang skof en die hitte was meer as waarmee hulle rekening gehou het. Vroeg-vroeg toe slaap almal baie vas.

Toe die maan ‘n suurlemoenskyfie naby die westelike horison is, begin die seuns nagmerries kry. Hulle is benoud en deurmekaar. Toe hulle wakker word, lê die tent op hulle en hulle kan nie onder hom uitkom nie. Hulle begin benoud om hulp skreeu. Die dogters hoor dit eerste en begin gil. Sakamatlakobata spring uit die watent met sy geweer in sy hand en hardloop na die seuns toe. Hy sien wat aangaan en gooi eers hout op die vuur sodat hy kan sien wat hy doen, en ook sodat hy ver van die tent af die wêreld kan beskou.

Voordat hy die seuns onder die tent uithaal, sien hy dat die tentpenne netjies uitgetrek is. Hy onthou dat hy die penne help inslaan het en dat hulle stewig ingeslaan is. Hy ontset die seuns wat taamlik gehawend lyk.

Hy en die seuns staan langs die vuur.

“Wat het gebeur, Kootjie?” vra sy vrou uit die watent.

“Die seuns het die trekpenne soos gewoonlik nie reg ingeslaan nie. Hoe kon die tent regop bly?”                              “O!”                                                                                                                                              

Die drie seuns kyk vraend na hul pa, maar waag dit nie om iets te sê nie.

“Haal julle matrasse onder die tent uit en kom slaap hier langs die vuur. Ek sal wag hou tot dagbreek.”

Die boer sit alleen langs die vuur. Hy weet wat gebeur het. Hy maak koffie en drink stadig daaraan.

“’n Mens sonder ore is ‘n halwe mens,” het sy pa altyd vir hom gesê.

Hy wou tot elke prys op Bobbejaankrans kom woon en die eerste nag gebeur wat sy bure hom voorspel het. Hy weet wat hy môreoggend langs die tent sal sien: kaalvoetspore soos dié van ‘n mens.

Waterbobbejaan boer op daardie plaas.

Die boer is lank en skraal. Hy het min hare, alhoewel hy nog jonk is. Sy hoë voorkop is vol plooie. Hy het nog nooit met so ‘n situasie te doen gekry nie. Hy weet nie hoe om op te tree nie. Mens sal maar moet wag en kyk wat alles gebeur, dink hy. Intussen moet hy dag en nag oplettend wees, hy is vies. Dis nie sy manier om dinge af te wag nie. Hy wil hulle graag tegemoetgaan en die hoof bied.

Dit sal hom ook nie help om sy vrou en kinders môre te vertel wat hy weet nie. Dit sal net onrustigheid afgee en niemand sal sy aandag by sy werk hê nie.

Vervolg...