Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Maar dinge het nie volgens plan verloop nie. Die Bantoes is skrikkerig om vir Sakamatlakobata te werk. Hy het sy Bantoenaam in daardie stat gekry. Eers na ‘n paar weke het die eerste werkers en hulle gesinne opgedaag.
Intussen moes die seuns self veewagters wees.
Sakamatlakobata het vasgestel dat die beste weiveld in die lelike-kloof is. Die buffelgras het hoog onder die soetdoringbome en huilbos gestaan. Daar ontspring ook ‘n fontein hoog in die kloof en drinkwater is volop en skoon.
Elke oggend melk die boer en sy seuns die koeie, en daarna jaag Koos die kalwers na hulle weiveld terwyl Piet en Willem die koeie na die lelike-kloof neem.
In die lelike-kloof het die seuns hulle verkyk aan die dinge van die natuur: suikerbosse, kiepersolle, Van Wykshout, kreupelbos, vaarlandsvye en klapperbome. Daar is pragtige blourugkurpers in die stroom en die krans- en bosduiwe is groot en vet.
Een middag vroeg begin die wind skielik opkom.
“Hier is ‘n groot storm aan die komme,” sê Willem.
“Kom ons wag nog ‘n bietjie. Jy weet hoe moeilik Pa is as ons die beeste te vroeg in die kraal het.” Maar ‘n halfuur later begin hulle die beeste terugjaag. Hulle het kajuitraad gehou en met meerderheid van stemme besluit dat dit ‘n groot haelbui is wat opbou.
Net toe hulle die beeste op die werf het, waai die storm oor.
Die boer en sy vrou het ook die ergste verwag en daarom raas hy nie. Maar hy kyk sy beeste deur en vra: “Waar is daardie mooi rooibruin vers?”
“Watter een, Pa?” vra Piet.
“Die een wat ek vir Kleinie gemerk het.”
Die seuns kyk na die beeste en skud hulle koppe.
“Gaan soek haar dadelik. Die storm is oor en daar is nog genoeg lig. Daar was ‘n paar aande gelede ‘n leeumannetjie op oom Stoffel Wolf se plaas. Mens kan nooit weet nie. Sy kan nie vannag in die veld slaap nie.”
Die seuns is vies vir hulleself. Maar halwe werk is ‘n eienaardige iets: dit moet altyd oorgedoen word. In die lelike-kloof skei die seuns van mekaar en loop parallel en ongeveer vyftig tree van mekaar af en soek. Piet loop in ‘n dowwe voetpaadjie langs. Hy loop feitlik geruisloos in die fyn sand.
‘n Entjie van die paadjie af in die hoë gras sien hy die vers lê. Sy lê op haar sy en slaap met haar rugkant na hom toe. Piet wil die slaperige vers ‘n les leer. Hy bekruip haar stilletjies en skop haar teen haar rug net so hard as hy kan. In ‘n sekonde staan daardie rooierige vers regop voor hom.
Dis Waterbobbejaan.
Hy staan ongeveer ‘n tree van Piet af. Hy hou sy arms na bo en sy lang vingers hang af grond toe. Piet staan versteen. Sy kop is ver na agter gebuig, sodat hy in Waterbobbejaan se oë kan kyk. Waterbobbejaan laat sak sy arms stadig. Piet kan nie ‘n geluid uitkry of ‘n beweging maak nie.
“Piet! Hier is die vers!” roep Willem ‘n entjie regs van hom.
“Het jy gehoor, Piet?” Dis vir Willem snaaks dat Piet hom nie antwoord nie. Hy laat die vers wei en stap na Piet.
“Piet, wat is dit Piet? Jy lyk siek!”
“Kyk na daardie spore in die sand!”
Willem stap nader en kyk.
“Wat daarvan? Dis ‘n Bantoe wat daar geloop het.”
“Dit is Waterbobbejaan se spore. Daar kan jy sien waar hy in die lang gras geslaap het.”
"En toe?"
“Toe skop ek hom in sy ribbetjies. Ek het gedink dis die vers wat daar lê.”
“O land gekocht door bloed! PAAAAAAAA!” skreeu Willem en hy begin hardloop na die opstal.
Piet spring om en begin ook hardloop. Na ‘n paar treë haal hy Willem in. Hulle het nou vrede met die vers en hardloop kop aan kop na hulle pa toe. As Piet by rukke ‘n tree of wat voor is, haal Willem hom met ‘n kragtige poging in. Nie een wil die agterste een wees nie.
Sakamatlakobata hoor die geskreeu en hardloop na die agterdeur. Die seuns hardloop hom onderstebo. Al drie beland op ‘n hoop voor die es.
Die volgende oggend is die boer en twee Bantoes weg om Waterbobbejaan te gaan soek. Sakamatlakobata het sy oorlogsgeweer, sy Mod Mauser, by hom. Die een Bantoe het ‘n knopkierie en die ander een ‘n skerp byltjie.
Hulle deursoek die lelike-kloof en vind nie ‘n enkele spoor of ‘n teken van iets wat Waterbobbejaan nagelaat het nie. Die lelike-kloof is nie te ruig nie en die boer vind dit leersaam om sy plaas beter te leer ken.
Die tweede dag soek hulle in ‘n kloof wat net links van die lelike-kloof geleë is. Hulle het hom die lelike-lelike-kloof genoem. Hierdie kloof is ruier as die lelike-kloof. Maar daar vloei ‘n sterk fontein deur die kloof en die gras is hoog en sal in die winter vol in die saad staan.
Die derde dag soek hulle die lelike-lelike-lelike-kloof deur. Maar hier kon die boer nie veel uitrig nie. Die kloof is té ruig en té vol doringrige bossies. By tye moes hulle in die sterk stroom oploop om te vorder. Die kloof se kranse is baie hoog en heeltemal te steil om te beklim. Waar die kranse bymekaarkom, ontspring ‘n sterk fontein. Hy stort oor die hoë krans en vorm ‘n mooi en breë waterval. Agter die waterval is ‘n grot, en in daardie grot woon Waterbobbejaan.
Sakamatlakobata het in die kloof gestaan en die waterval met sy verkyker lank en aandagtig bekyk. Maar hy gewaar niks wat vir hom verdag voorkom nie.
Teen sononder is hy en die Bantoes huis toe.
Op pad terug dink Sakamatlakobata aan die woorde van ‘n indoena van Calvyn se stat. “As jy hom soek, sal jy hom nooit kry nie. Maar as jy hom nie soek nie, sal jy op hom afkom. En jy moet hom tog nie skiet nie: dit sal dan jare lank nie reën nie.”
Vervolg...