Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Vroeg die volgende oggend het Waterbobbejaan die boer en sy twee helpers sien aankom na sy kloof. Hy het ‘n tydjie lank vir hulle gekyk en toe in sy grot gaan sit. Hy weet hulle sal hom nie kry nie. Agter die waterval van sy grot voel hy veilig. Baie dae sit hy in die grot se opening en loer na die watergordyn voor hom. In die somer is die fontein sterker as in die winter. Daarom sit hy in die somer sommer net en kyk na die water hier voor hom. In die winter kan hy effens deur die water kyk na die kloof hier onder hom. Dis vir hom alte mooi as hy die groen kloof en die bruin kranse deur so ‘n waterbril kan bekyk. Soms kry hy lag as die water die kranse en bome skeef en krom draai. Dis vir hom ‘n lekker speletjie en dit verveel hom nooit nie.
In die somer is sy waterval heeltemal toe en dan het hy lus om die watergordyn weg te trek om te kan sien wat daar buite aangaan. Hy slaag nooit daarin nie, en dan gaan sit hy maar langs die waterval in die sonnetjie en bekyk die hele terrein wat voor hom is. Maar die waterval sus hom gereeld aan die slaap, en na ‘n rukkie knik sy kop en begin hy saggies snork.
‘n Paar dae na die boer sy soektog gestaak het, sien Waterbobbejaan dat daar op die plaas ‘n wa ingespan word. Sakamatlakobata en sy gesin gaan daardie Sondag vir een van sy bure kuier.
Waterbobbejaan klouter met sy paadjie na die top van sy kranse en loop na die naaste spruit in die vlakte.
Die spruit se vinke sien hom aankom en begin ‘n groot lawaai maak. Hulle weet hy is op pad om hulle nessies te kom uithaal om die eiertjies uit te drink. Toe hulle so lawaai, gee al die kleinwild vinnig pad. Hulle weet wie besig is om aan te kom.
Dit is Waterbobbejaan se geliefkoosde tydverdryf om ‘n klein bokkie te vang en na die seekoeigat te dra wat in die spruit is. Dan skreeu die bokkie dat die kranse antwoord gee, want hy weet wat gaan gebeur: Waterbobbejaan gaan hom vér en diep in die watergat gooi en dan staan en lag as die bokkie swem so al wat hy kan om die anderkantste wal te bereik.
Waterbobbejaan verstaan nie waarom die bokkies so bang is nie, want ‘n likkewaan kan hulle mos nie vang nie. Verder af in die Maricorivier is krokodille.
Daardie oggend drink hy hom dik aan die vinkeiers en gaan sit toe met sy groot voete in die water by die drif. Die water is daar vlak en raserig oor die groot klippe. Op warm somersdae soek die vissies koelte. Dit gebeur dikwels dat een van hulle onder die brug van aan van sy voete inswem om daar skuiling te soek. Hulle dink dis ‘n klip of ‘n stomp. Hy voel die vissies wat sy voetsole kielie, en dan haal hy hulle versigtig uit en sit hulle saggies terug in die water.
Terwyl Waterbobbejaan by die spruit speel, gesels Sakamatlakobata en sy bure op oom Paul Raaswater se breë voorstoep.
“Neef, jy moet maar leer om saam met Waterbobbejaan op een plaas te boer!” Oom Paul Raaswater slaan met sy hand op sy knie en lag dat die werf weergalm.
Die ander ooms wat op die stoep sit, knik instemmend met hul koppe. Hulle woon al lankal in die distrik. Hulle is die landskoonmakers wat die bos mak en bewoonbaar gemaak het. Hulle ken die bos deur en deur: sy diersoorte, sy paadjies, sy watertjies, sy bome en sy geaardheid.
“Ek gee nie om nie, maar my vrou is bang.”
‘n Vrou se geloof hou altyd op as die son ondergaan,” sê oom Koos Kraak. Sy nuwe stewels het altyd gekraak as hy in die kerk se gangetjie waardig afstap met sy bril en sy psalmboekie in die een hand en sy veldstoeltjie in die ander hand.
“Sê nou hy ruk een goeie dag hande uit en neem die plaas op horings?” vra Sakamatlakobata.
“Hy het nie ‘n vrou nie; hoe kan hy van sy wysie af raak?” vra oom Hans Meerkat. Die oom leef saam met sy vierde vrou.
Oom Koos Hamerkop maak sy keel skoon. Hy gaan ‘n groot ding sê. Hy is kommandant van die distrik en weet waarvan hy praat. Dis jammer dat hy sy hare nie kam nie, daarom lyk sy kop soos ‘n hamer-kop se nes.
“Hy is baie soos ‘n mens. Hy loop ook in die nag. Engelse soldate veg en loop nie in die donker nie. Ek het dit by Amajoeba gesien.”
Rabasetsana (“Pa van baie dogters) sê niks nie. Hy is Sakamatlakobata se skoonpa.
Oom Stoffel Wolf wat gewoonlik baie praat, is vandag ook stil. Hy is vies vir al wat bobbejaan en aap is. Hy skeer een keer per jaar effens aan sy hare en baard; daarom lyk hy soos ‘n strandjut.
“Jaaa,” is al wat Stoffel Wolf sê. Toe steek hy sy pyp met sy tonteldoos op en voel vies-vies aan sy nek. Die oom het ‘n paar dae gelede ‘n trop ape in sy populierbos gekry. Hy het onmiddellik sy geweer oorgehaal en na die grootste blou-aapmannetjie geskiet. Van pure opgewondenheid het hy die mees primêre voorsorgmaatreël vergeet: hy het reg onder die aap gestaan en gemeen om hom ‘n doodskoot te gee. Maar hy het die aap net deur die bolip geskiet. Gelukkig vloei daar ‘n spruitjie deur die bos. Die oom het hom gaan was en huis toe geloop.
Hy durf niemand daarvan vertel nie.
Oom Paul Raaswater is oom Stoffel Wolf se broer. Hy is nog nie klaar met die storie nie.
“Neef,” sê hy vir Sakamatlakobata, “ jy is vies vir Waterbobbejaan omdat jy alleen op die plaas wil boer. Ons ken jou mos. Jy voel natuurlik asof jy die oorspronklike eienaar, Waterbobbejaan, se bywoner is. Daar is natuurlik te veel boere na jou sin op die plaas.”
Sakamatlakobata vererg hom en sê niks nie. Daar is nogal waarheid in die bewering, dink hy.
(Vervolg....)