Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Sakamatlakobata en sy seuns lei water in die koringland.
“Piet, jy moenie soos ‘n beginner waterlei nie, man. Dis die eerste keer dat die land gelei word, en as hy verkeerd gelei word, lei hy nooit weer reg nie. Moenie die water daar inkeer nie; maak jou leivoor hoër op. Kan jy nie na die val van die grond kyk nie? Iemand sonder oë is ‘n halwe mens.’’
‘’Koos, jou afkeerwal sal nooit hou nie. Moenie daar so hulpeloos staan soos ‘n vrou met hande vol deeg nie. Roer jou. Kan jy nie sien ...’’
‘’Paaaa!’’ skreeu Willem van ver af, ‘’kom kyk net hoe lyk die lemoenboord verniel. Waterbobbejaan het die jong jaarlemoene se takke links en regs afgebreek en omtrent alles gesteel!’’
Die boer se gal word bitter. Dis warm en sy humeur het al breekpunt bereik met sy seuns wat blykbaar nie kan leer om water behoorlik te lei nie. Maar die ergste van alles is hierdie nuus.
Sy pa het die oorspronklike jaarlemoenboompies en die ander vrugtebome in die Kaap gaan haal. Waarom plant mens beskaafde bome in die bos en dan kom ‘n harige barbaar en verinneweer hulle?
Wie is baas, hy of die bos?
Wie se sweet het hier geloop, wie se hande is vol blare?
Wie dink en beplan vooruit? En hoe lank versondig Waterbobbejaan hom al?
‘’Jy is Waterbobbejaan se bywoner,’’ klink oom Paul Raaswater se woorde in sy ore. ‘’Daar is te veel boere op jou plaas.’’
Die Alleenloper gooi sy graaf neer. Hy staan met sy hande in sy sye.
”Wat nog? Moenie vir my sê ...”
“Ja, Pa. Van die franselemoene is omtrent niks oor nie!”
“So ‘n aljetter!” Sakamatlakobata weet nie wat die woord beteken nie. Maar hy het sy sê gesê.
“Lei verder!” beveel hy dan. Hy sluit homself by die opdrag in.
Willem bring koffie land toe. Sakamatlakobata drink daarvan en dit proe vir hom so bitter soos groen amara. Hy het verlede nag se gebeure nie vergeet nie. Hy sien in sy gedagtes hoe Waterbobbejaan vir hom sit en lag terwyl hy op hom afkyk. Met moeite bedwing hy hom om nie in die rigting van Waterbobbejaan se grot te kyk nie. Hy sal vandag voortwerk asof niks gebeur het nie. maar intussen maak hy planne sonder ophou.
Terwyl die boer so bitter is, stap Waterbobbejaan na die naaste drif. Hy gaan sit op ‘n klip en steek sy voete in die water.
Ver bokant hom het Pels, die otter, net klaar gevreet aan ‘n groot kurper. Pels is ‘n vreedsame ou: hy maak niemand skrik nie en wil ook nie skrikgemaak word nie.
Hy het nog nooit ‘n beter tyd beleef as juis nou nie. vandat die plaas weer bewoon word kry hy so nou en dan ‘n klein kuikentjie of eendjie vir nagereg. Daarom is hy in ‘n goeie kondisie: sy pels blink en sy maag is mooi rond. Hy is lui en versadig. Hy besluit om sy vrou en kleintjies net so te los en na ‘n ander gat te gaan waar hy in vrede kan slaap. Die gat is onderkant die drif en hy het dit spesiaal vir hom gemaak onder ‘n groot vaarlandswilg.
Pels swem stadig na die middel van die stroom en draai hom op sy rug, hy gaan stroom af dryf na die drif. Hy maak sy oë toe en begin dryf. Sy ronde maag staan blink na bo en die warm son op sy pensvel laat hom eers lekker voel. Hy hoef nie te kyk waar hy heen dryf nie. Hy ken sy strome. Hy is in die middel van die stroom en hy sal daar bly tot by die drif. Hy sal die geraas van die water oor die klippe hoor en dan sal hy weet om aanstaltes te maak om uit die water te kom.
‘n Entjie bokant die drif merk hy met toe oë op dat daar ‘n skaduwee bo hom is, en dit nogal in die middel van die spruit.
Hy maak sy oë lui-lui oop. Waterbobbejaan staan wydsbeen bo hom in die middel van die stroom, net waar dit vlakker begin word by die drif. Hy het Pels sien aankom en kon die versoeking nie weerstaan om hom só in te wag nie. Pels draai hom om, duik, swaai weg, skrik en moet terselfdertyd dink. Boonop gebeur dit alles op ‘n vol maag. Toe hy op die wal kom, swik-swik sy bene onder hom.
Hy het met moeite sy slaapplek bereik.
Hy het die res van die dag daar gelê en af en toe diep gesug. Boonop wou die slaap maar nie kom nie.
Terwyl Pels sug, sit die boer op sy voorstoep en rook. Sy werk vir die dag is afgehandel. Hy dink.
Onder die blinkblaar speel sy seuns.
“Nee man,” sê Piet vir Koos. “Jy het jou haarvooros links gaan staan en inspan. Dit sal mos nie deug nie. Dit gaan ‘n kleitrappery afgee.” Hy help Koos en hulle span die voorosse reg in.
Hulle drie wit kakebeenwaens staan ingespan, reg om te trek. Dis die skoon gekookte onderkakebene van skape. Die osse is pikswart, want hulle is gemaak van swart potklei wat hulle by die spruit gaan haal het. Die swart klei-osse het pragtige spoggerige spierwit horings, want dit is soetdoringboomdorings.
“Is julle reg? Kom ons trek!” beveel Piet.
“Wag eers! Waarheen trek ons?” vra Koos.
“Ons trek noordwaarts en stig ons eie republiek.”
“Goed!” sê Koos en Willem.
Die drie waens kom in beweging en hulle trek die wildernis in. Hulle beweeg deur digte woude. Die soutbossies is amper kniehoogte. Kort-kort moet hulle briek aandraai en die pad verder oopkap. Piet skiet ‘n yslike geelkraagmannetjie net voordat hy sy een agteros bespring. Toe die kruitdampe gaan lê sê hy: “Sjoe, sonder daardie agteros sou ek nie verder kon trek nie. My turf sou gesit het.”
Die pioniers swoeg net ‘n entjie verder. “Koos, gaan vra gou vir Ma ‘n beker koffie vir elkeen van ons. Hierdie padmakery is swaar werk.”
Piet en Willem gaan sit op hulle hurke en vee die sweet van hulle voorkoppe af. Na ‘n rukkie is Koos terug met drie blikbekers vol koffie.
“Ons het die hele dag lank nog nie eers ‘n uur te perd ver gevorder nie; die bos is darem vir jou dig,” verklaar Piet, die leier van die trek.
“Ons moet maar uithou,” meen Koos. “Of wil jy miskien teruggaan na die Engelse in die Kolonie?”
“So nooit as te nimmer nie. ek het te swaar onder hulle gehad. Ek sal nooit vergeet hoe hulle my gekul het met die uitbetaling van my slawe nie.”
Piet is nog bitter. Mens kan dit aan sy gesig sien.
“Ek onthou nog soos die dag van gister hoe die Engelse landdros my beboet het, omdat ek ‘n Kôsa gewikkel het wat ewe grootman met ‘n paar skoene oor my werf gestap het. Hy het nie die ordentlikheid gehad om hulle om sy nek te hang toe hy op my plaas kom nie.” Willem se hande jeuk nog.
“Hulle het my net so gekul met die belasting wat ek moes betaal. Ek het al my bure en familie as getuies geroep, maar tevergeefs. Terwyl die landdros die vonnis oorweeg, steek ek ‘n nuwe pruimpie in my kies en spoeg ‘n slag.
“Dirty beast!” sê hy.
“Dertig beeste?” vra ek verslae.
“Nee, dertig varke,” sê die tolk. Hy het sy bes probeer om my te help.
“Op die lang duur het ek net ‘n paar pond boete gekry.” Koos is nog kwaad.
Hulle sit hulle bekers neer.
“Hoe trek ons van hier af?” vra Koos terwyl hy sy velbroek afstof.
“Ons draai hier links. Daar ver na die suidekant is goeie weiveld,” antwoord Piet.
“Ek wil liewers regs trek na die bosveld toe,” sê Koos.
“Ek dink ons moet reguit aanhou; daar is meer water en minder swartes,” sê Willem.
“Julle het my gekies as julle leier. Julle sal doen soos ek sê,” dreig Piet.
“Wie is jy miskien? Ons is vry en ons kan maak soos ons wil,” sê Willem. “Ek trek waarheen ek wil.”
“Ek ook,” sê Koos.
Die drie trekke verdeel en elkeen het voor sononder sy eie republiek gestig; so ver van mekaar af dat hulle mekaar se skoorstene nie kon sien rook nie.