WATERBOBBEJAAN (8)

                                             

Ben Venter 

Lees reeks by Waterbobbejaan

 

Die eerste paar weke na sy siekbed kon die boer nie slaap nie.

“Ek het ‘n paar weke lank geslaap,” sê hy. “Hoe kan ek nog vaak wees?”

Hy het snags ure lank op sy stoep gesit en rook en na die naggeluide van die bos geluister. Hy voel eensaam. Hy wil met iemand gesels. Hy oorweeg dit om die volgende week vir ‘n paar dae by oom Stoffel Wolf en oom Paul Raaswater te gaan kuier. Hy kan maklik ‘n paar dae gaan vakansie hou. Die Bantoes is taamlik skaflik en die skoffeltyd is verby.

Die oggend na hy so besluit het, is ‘n helder someroggend. Maar dit het vroeg daardie oggend al drukkend begin voel. Sakamatlakobata se ondervinding sê vir hom dat die reën nie ver is nie. Miskien vanmiddag nog.

Toe die huisgesin twaalfuur gaan eet, is dit broeiend warm.

‘’Die kos is warm Sanna. Kon jy dit nie eers onder die boom gesit het nie?’’

‘’Met al die vlieë wat deesdae hier is?’’

‘’Jy kon die vlieë wegwaai met jou kappie.’’

Maar tydens die ete is daar iets anders op die plaas aan die gang.

Net regs van Waterbobbejaan se grot is ‘n knoppie op die rante wat effens hoër as sy grot is. Op die knoppie is lang rooigras en enkele soetdoringbome. Van daar af kan iemand die boer se plaas nog beter bespied as van die grot af.

‘n Groot rooierige dier kom deur die gras op sy pens oor die grond aangeseil. Hy maak baie seker dat niemand hom sien nie. Niemand mag hom sien nie. 

Hy kom by die punt waar die gras ophou en druk die voorste gras versigtig weg. Hy lê plat en doodstil. Net sy neus en oë steek uit, en ook net ‘n bietjie daarvan. Hy kan so goed sien dat dit vir hom genoeg is om die aanleg deeglik te verken.

Dis stil en warm op die werf. Niks roer nie. Hy kyk na die lande en boorde, maar stel nie belang daarin nie. Hy bespied die werf aandagtig, veral die skaapkraal. Hy wil vannag die grootste ram uit daardie kraal vinnig gryp, sy nek breek en haastig wegdra. Dan sal hy ‘n paar dae tevrede wees. Hy sien die klipmure is nie hoog nie. Die oorspring en terugspring sal maklik wees. Hy ken sy eie krag.

Die hele middag lank lê hy doodstil en probeer alles onthou wat hy sien. Hy het baie tyd. Hy het lank vir so ‘n kans gewag.

Teen laatmiddag sien hy die wolke oor die heuwels van die noordekant af kom. Die windjie word koeler en hy ruik dat dit êrens veraf gereën het. Toe weet hy dat dit vannag gaan reën en dis die beste geleentheid denkbaar om in die kraal in te gaan. Die donderweer, reën en wind sal baie geluide wegwaai en sy spore ook wegspoel.

Die boer staan na die noordekant en kyk.

‘’Piet, hardloop julle drie en gaan help die wagtertjies om die skape gouer in die kraal te kry. Die reën is nou-nou hier. En as daar van hulle in die storm afdwaal, dan kry ons hulle nooit weer nie.’’

Boer stap solank kraal toe om die skape te tel as hulle ingejaag word. Die wolke se punt is nou al ver verby na die suidekant en die wind begin stof opjaag.

Die skape sien die storm en hulle kom in ‘n lang tou aangehardloop na die kraalhek. Sakamat-lakobata tel hulle en draai die hek met draad stewig toe.

Toe hy klaar is, stap hy vinnig agterdeur toe terwyl hy sy hoed op sy kop vashou. Die wind wil dit al wegwaai.

Toe die seuns die skape gaan help aankeer, staan die groot dier stadig op in die rooigras en begin met die digste kloof langs afstap na die opstal. Hy het vandag goed gekyk waar die bos die digste is na die woning. Hy stap op sy gemak deur dié dele. Toe wag hy duskant die boord tot dit donker is, en die storm dreig om enige oomblik los te breek.

Die boer kry sy honde jammer en toe hy die agterdeur oopmaak en die wind byna alles van die kombuistafel afwaai, roep hy hulle in. Hulle kan tog niks in die storm hoor of sien nie. Hulle kan later weer buite gaan wag hou. Die boer is houtgerus. Die storm is netnou weer oor.

Hy vergeet dat sy werf nou heeltemal op eie genade aangewys is. Platpoot, die gansmannetjie, kan niks sien op so ‘n donker nag nie.

Die geslepe dier by die punt van die boord sien hoe die honde in die huis ingaan. Hy wag ‘n paar minute en toe hardloop hy ‘n draai om die werf, spring ligvoets oor die kraalmuur, gryp die grootste ram, breek sy nek en spring met die dooie ram oor die muur en draf op sy gemak kranse toe.

Net daarna, terwyl hy deur die boord draf, begin ‘n swaar en aanhoudende reën uitsak.