WATERBOBBEJAAN (9)

Ben Venter 

Lees reeks by Waterbobbejaan

Dit reën omtrent die hele nag deur. Die boer is so opgewonde dat hy byna nie kan slaap nie. Hy het lank laas so ‘n voorspoedige jaar gehad. Die oes gaan goed wees en die gras sal tot diep in die volgende seisoen hou. Hy is gelukkig op sy plaas.

Vroeg die volgende dag staan Sakamatlakobta op en gaan maak sy skaapkraal se hek oop. Hy tel die skape soos hulle uitloop. Intussen kom die wagtertjies stadig aangestap.

Boer sien daar is een skaap te min en dis vir hom of iets snaaks aan die gang is. Toe val dit hom by: waar is sy grootste ram? Dis wel ‘n kulram, maar wat het van hom geword?

Hy kyk sy skape weer deur. Die ram is nie tussen hulle nie.

“Jaag die skape in!” beveel hy die wagtertjies. Hy maak die hek dig toe en begin al om die kraal spoorsny. Dis verniet. Die moontlike spore is weggespoel. Hy gaan in die kraal in nadat die skape weer uitgejaag is. Daar is geen bloed hoegenaamd in die miswater te sien nie.

Wie het dit gedoen?

Boer twyfel sterk daaraan of dit Bantoes kan wees. Hulle sal nie in so ‘n nag rondloop nie. ‘n Hele paar van hulle sal dit miskien regkry om die ram oor die muur te tel, want hy het gesien toe hy oopmaak dat daar nie met die hek gelol is nie.

Hy kyk na Waterbobbejaan se grot en sien dat die waterval baie groter is as gister en dat die water bruiner is.

Wat moet hy dink?

Daardie dag wil die Bantoes nie soos gewoonlik werk nie. hulle praat aanhoudend. Die voorval word oor en oor bespreek. Elkeen het sy eie verklaring van die diefstal. Maar hulle kan ook nie vorder met ‘n aanneemlike storie oor die moontlike dief nie. Dit moes ‘n skelm en sterk dier gewees het, so het hulle teen die aand se kant begin dink.

“Waterbobbejaan!” sê een naderhand. Toe merk hulle dat hulle gedagtes van die oggend vroeg af stadig in daardie rigting begin werk het.

Daardie nag het nie een dit buite sy hut gewaag nie.

Boer sit na aandete voor sy es en rook. Hy voel soos hy eenkeer vir ‘n seun van hom gesê het: so hulpeloos soos ‘n vrou met haar hande vol deeg.

Boer wil nie graag vir Waterbobbejaan beskuldig nie. Dit voel vir hom al of hulle twee die saak uitgepraat het, een of ander tyd.

“Jy is mal!” sê hy hardop vir homself.

“Wat sê jy Kootjie?”

“Sommer niks.”

“Dit het nie so geklink nie.”

Boer staan vies op en gaan slaan sy pyp buite uit.

Dis net moontlik dat die duiwel nou behoorlik los is. En dit alles oor ‘n paar simpele lemoene. Pleks dat hy vir Waterbobbejaan ‘n mandjie vol met ‘n Bantoe krans toe gestuur het.

Weer ‘n slapelose nag.

Terwyl Sakamatlakobata voor die es sit, sit Waterbobbejaan langs die waterval in die maanskyn. Dis ‘n lieflike aand na die storm van die vorige nag. Hy was lanklaas so tevrede met homself. Hy vryf sy hand oor sy vol maag en sug van tevredenheid.

Sy boude en sy rug is weer gesond. Hy sit lekker en hy skuur sy rug saggies teen die gladde rots agter hom. Hy wonder wanneer hy dit kan waag om weer op boer se plaas te kom. Hy besluit om voortaan meestal in die nag rond te loop. Hy kan nie in die nag so goed sien soos in die dag nie, maar hy sien goed genoeg om te weet waar hy loop en om kos te soek en te kry. Hy sal ook liewer in die woeste en rotsagtige dele loop waar sy spoor nie so duidelik sigbaar sal wees nie.

Wêreld, maar hy voel lekker! Hy het in sy lewe nog nie ‘n feesmaal soos verlede nag en vandag gehad nie. Hy het ver geloop en swaar gedra, maar dit was die moeite dubbel en dwars werd. Oor ‘n paar aande gaan hy weer so maak.

Solank as die boer het, gaan hy eet.