Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
“Ek hoor die waterval,” sê Piet. Die gedruis word al harder. “Ek wonder hoe lyk die waterval van bo af”.
Hulle ry ‘n paar treë verder.
“Ons sal Pa-hulle alte mooi kan sien van die top van die krans af.”
“Pa het gesê ons moet nie lol waar Waterbobbejaan woon nie,” sê Willem.
“O so; nou is jy weer bang,” kom dit van Piet af.
“Is nie!”
“Ek het vandag nog geen spore gesien anders as dié van wild nie. Ek glo vas hy is weg na Pa hom die loesing gegee het.” Koos is baie selfversekerd. “Pa het nie eers ‘n geweer gehad toe hy Waterbobbejaan bevloog het nie. Hy behoort vir drie man met ‘n geweer baie banger te wees veral omdat hy in die dag die geweer kan sien en hy weet wat dit is.”
Hulle ry stadig voort. Die honde loop rustig langs die perde. Hulle het die hele dag lank nog nie geblaf of iets gesien of geruik wat vir hulle verdag voorgekom het nie. Die seuns het dit raakgesien. Die veld is besonder stil, so stil dat hulle nie gerus voel nie.
Maar ‘n paar honderd treë voor hulle lê Spikkels, die luiperd. Hy het hulle lankal gehoor en ook sien aankom. Hy lê langs die voetpad waarlangs hulle ry. Sy ore staan regop en sy stert swaai liggies heen en weer. Niemand sal hom kan onderskei van die blare en sonkolle in die blinkblaar-wag-‘n-bietjie nie. Boonop is die honde se neuse op die grond en die seuns kyk soos Piet beveel het, weerskante van hulle af na die grond.
Spikkels trek hom al platter en die spiere in sy skouerknoppe begin al meer lewe. Sy ore gaan lê.
Piet trek sy perd in.
“En nou?” vra Koos.
“Die perde moet eers blaas.”
Hulle klim af en staan die wêreld en bekyk.
Die waterval is nou links van hulle, net oor die knop. Die rantjie styg baie geleidelik na die waterval. Aan die noordekant is die diep afgrond waar die water oor stort.
“Kom, ons moet nou begin vinniger ry.” Piet klim op sy perd.
Spikkels trek sy oë op skrefies.
Toe Piet op sy perd klim, begin Sakamatlakobata sy koffie drink onder die blinkblaar op die werf. Hy en sy vrou en dogters sit op veldstoeltjies in ‘n kring.
“Hoe laat behoort die seuns terug te wees, Kootjie?”
“So oor twee ure ongeveer. Miskien ‘n bietjie later. Hulle moet verkenning doen en dan gaan dit stadiger as gewoonlik.
Hy voel byvoorbaat trots op sy seuns. As hulle die rondte gedoen het en veilig tuiskom, weet hy dat die seuns nog groter verantwoordelikheid kan aanvaar. Dan is hy vir die toekoms nie bang nie. As hy tot sterwe kom, kan hulle hulle ma en susters versorg en hulle man staan in die bosveld. As hy nog lewe, kan hulle ook saam met hom op kommando gaan teen die Engelse in die oorlog wat onvermydelik aan’t komme is.
“Hulle sal moeg wees as hulle vanaand tuiskom,” sê die boer. “Julle moet vir hulle lekker kos maak en daar moet genoeg wees.”
“Daar is ‘n yslike duikerboud wat met spek gestop is in die oond.”
“Dis die ware Jakob.”
Hy staan op en gaan kyk hoe die Bantoes met die nuwe leivoor vorder. Toe stap hy ‘n draai deur sy mielies en boord.
Bietjie meer as ‘n uur later is die boer in sy kombuis waar sy vrou en dogters voor die es doenig is. Dit word nou laat in die middag.
“Nog koffie,” bedel hy. “Ek hoop jy het vir die seuns genoeg padkos ingesit, Sanna.”
“Natuurlik, Kootjie!” Sy vrou vererg haar half en half. Maar sy vertel hom nie van die sakkies lekkergoed wat ook skelmpies ingesit is nie, want dan sal hy weer sê: “Dis reg, ja. Bederf hulle. Op dié manier sal jy van hulle manne maak.”
“Kootjie, is jy seker Waterbobbejaan is nie meer op die plaas nie?”
“Ek weet nie. Ons sal hoor as die seuns terug is.”
“Sê nou hulle kom hom teë?”
“Piet is ‘n knap skut en hy het my nuutste geweer.”
“Is hier nie ‘n luiperd ook op die plaas rond nie?”
“Wat gaan met jou aan? Hoekom begin jy so praat?”
“Nee, ek vra maar net.”
“As hulle ‘n luiperd kry, sal Piet hom skiet. Mits Sannie nie vanoggend Martini-Henrypatrone in die Steyr se magasyn gesit het nie.”
Sakamatlakobata het vir Sannie gevra om vyf patrone in die magasyn te sit. Hy het die magasyn vir haar gegee en die seuns gaan help om die perde op te saal. Dis tyd dat sy dogters ook leer om iets van vuurwapens te weet. Hulle moet ook leer om meer selfstandig te wees.
“Nee, Pa, ek het nie. Martini-Henrypatrone is mos te groot vir ‘n Steyr se magasyn.
“Mooi so, jy leer vinnig.”
Skielik kry hy hond se gedagtes.
“Watter patrone het jy gevat?”
“Die wat in die kassie onder Pa-hulle se bed is, soos Pa gesê het.”
“Gaan haal die kassie, gou-gou!”
Sannie kom ewe grootman aangestap met die kassie.
“Wys my van watter patrone het jy gevat.”
Sannie sit die kassie op die kombuistafel neer en wys uit watter hokkie sy die patrone gehaal het.
Sakamatlakobata spring in die lug in op soos ‘n padda wat onverwags oopgeploeg is.
“WAAAAT!”
“Dis mos die regte patrone, nie waar nie, Pa?”
“Wat is dit Kootjie?” skreeu sy vrou benoud.
“Dis van daardie spul nikswerd patrone waarmee die Jood my jare gelede gekul het. Toe die eerste paar nie wou skiet nie, het ek aan hulle geskud en gehoor dat daar geen kruit in is nie. Hy het die kruit uitgehaal en aan die Bantoes verkoop vir hulle voorlaaiers en aan ons Boere duisende nikswerd patrone verkwansel. Toe het hy verdwyn.”
“Het jy hulle nie weggegooi nie?”
“Jy weet mos mens gooi niks weg nie. Mens kan nooit weet nie.”
Sanna weet hoe haar man voel. Hulle en hulle voorouers het met die geweer saam grootgeword. Sonder ‘n geweer voel hulle soos mense wat nakend rondloop.
“Toe maar, miskien het hulle niks gevaarliks teëgekom nie.”
“Dís nie my bekommernis nie. As hulle ongewapend gegaan het, dan weet hulle dit. Nou is hulle ongewapend en hulle weet dit nie. Daardie geweer is ‘n gebreekte riet. Dis vir hulle nie ‘n duit werd nie en hulle is onbewus daarvan.”
“Die boer hardloop na sy kamer en kom met sy Krag-Jorgensen-geweer terug.
“Wat gaan jy nou maak?”
“Ek gaan ry in die rigting waar hulle vandaan moet kom.”
Toe hoor hulle perdepote wat vinnig aankom.
“Die bogte! Hulle laat die moeë perde vinnig hardloop net om te spog!” Almal sug van verligting. Sakamatlakobata sit sy geweer in die een kombuishoek neer en stap na buite.
Die drie perde kom vinnig op die werf aangehardloop. Hulle ore staan regop en hulle oë is onnatuurlik groot. Al drie se teuels sleep langs hulle op die grond. Piet se perd is heel voor. Sy rug is vol lang hale en bytmerke. Hy is rooi van die bloed besmeer.
Die perde is sonder ruiters.