WATERBOBBEJAAN (16)

Ben Venter 

Lees reeks by Waterbobbejaan

‘n Paar middae later bring die wagtertjies die skape kraal toe. Die boer tel hulle toe hulle by die hek ingaan. Hy maak die hek toe.

“Het julle al die skape gebring?” vra hy.

“Ja Oubaas.”

“Hier is twee kort.”

“Nog nooit nie, Oubaas!”

“Wil julle met my stry?”

“Nog nooit nie, Oubaas!”

“Lieg ek?”

“Nog nooit nie, Oubaas!”

“Praat ek die waarheid?”

“Nog nooit nie, Oubaas!”

“Jaag hulle weer uit en dan in.”

Toe stel hy vas dat twee van sy jong hammeltjies weg is,

“Stap huis toe!” beveel hy die opgeskote wagtertjies.

Toe hulle op die werf kom, roep hy die groot Bantoes.

“Vat hierdie twee en hou hulle vas. Hulle het twee van my skape gesteel.”

Onder die blinkblaar staan ‘n groot vaatjie vol water. Die deksel is op en ‘n prop is by die opening ingeslaan. Sakamatlakobata wil hom laat uitswel sodat hy dig kan word vir sy asyn.

Hy keer die vaatjie om.

“Bring daardie een wat julle het,” sê hy vir Trappies en Abel. “Trek hom oor die balie en hou hom styf vas.” Altwee seuns skreeu toe al dat die werf antwoord gee. Almal storm nader, die boer se vrou en kinders ook.

“Ag Kootjie!” sug sy vrou.

“Elkeen kry ses houe en julle moet self tel.”

Hy tel sy gordel hoog in die lug op.

“Oubaas,” sê Trappies, “die vaatjie gaan hierdie jaar baie dig wees. Kyk hy is binne en buite al ewe nat!”

Agter die boer proes een van sy gesin. Hy kyk vinnig om en sien Sanna hou haar voorskoot voor haar gesig. Die kinders kyk skielik anderpad.

Sakamatlakobata druk sy gordel onder Trappies se neus. Sy hand bewe.

“Jy kry ook, gehoor?” Trappies word ligter van kleur.

“En julle ook!” Hy wys met sy linkerhand agtertoe na sy kinders.

Hy tel die gordel weer hoog op.

“Toe, tel!”

“SES!” skreeu die wagtertjie nog voor die boer hom slaan.

Sakamatlakobata gooi sy gordel neer en stap woedend weg na sy waenhuis. Binne gaan sit hy op ‘n hoop stroppe en begin skreeu soos hy lag.

Toe hy ‘n tydjie later werf toe loop, tel hy so in die verbygaan sy gordel waardig op en maak dit weer om sy broek vas.

Daardie aand is hy ‘n bekommerde boer. Hy self het nooit geglo dat die wagtertjies die skape gesteel het nie. Die hammels is dus onder hulle neuse weggeraps toe hulle vir ‘n tydjie afgedwaal het in ‘n paar bossies of in die lang gras. As skape so afdwaal, kom hulle byna dadelik weer terug na hulle weiveld. Hulle weet om versigtig te wees vir die ruigtes. Moontlik het die wagtertjies ‘n tydjie lank gedut. Dit maak nie saak nie; die skape is weg.

Is dit dieselfde een wat in sy kraal vang? Dan het hy sy metode verander. En ‘n dier wat kan dink, soos Waterbobbejaan, kan so iets doen.

“As Piet nie môre hier is nie, gaan ek hom haal,” sê hy tydens aandete. “Ek is baas op my plaas, nie ‘n bosduiwel nie.”

“Hy is nou eers drie dae weg, Kootjie. En jy het gesê hy kan ‘n week lank wegbly.”

“Gaan hy die honde miskien in Engeland haal? En as hy dit doen, looi ek hom. Geen vreemde soort honde op my plaas nie. Ek wil boerboele hê.”

“Ag Kootjie, jy praat nou sommer maar.”

Vervolg...