Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Intussen soek Waterbobbejaan onverpoos voort na die vreemde dier wat sy gebied in die nag besoek, hom bedreig en sy vriende doodbyt.
Na ‘n week kry hy die eerste duidelike spoor. By ‘n klein niksbeduidende fonteintjie waar geen dier aandag aan gee nie, kry hy ‘n yslike groot spoor. So ‘n groot spoor het die kenner van die Bosveld nog nie gesien nie. Hierdie dier is ‘n groot skelm, dink hy. Hy drink water waar net voëltjies drink. Hy kan alles van die spore aflei.
Dis al wat Waterbobbejaan voorlopig kry. En hy het dit toevallig gekry.
Terwyl Waterbobbejaan na die spoor sit en kyk, is ‘n dier besig om vir hom te kyk. Net suid van Waterbobbejaan is ‘n aangrensende plaas. Die plaas lê woes en leeg. Die noordelike deel daarvan is in elk geval te ruig en vol klein koppies vir ‘n opstal. Omtrent ‘n kilometer agter Waterbobbejaan is die hoogste koppie. Op die hoogste granietrots, plat op sy pens, so plat as hy kan, lê ‘n dier hom en bespied. Hy ken vir Waterbobbejaan beter as wat Waterbobbejaan hom ken. Hy hou hom al lankal dop en Waterbobbejaan het dit nooit vermoed nie. Hy weet waar die ou woon en hy ken sy roetine al goed.
Waterbobbejaan het nooit gelol om na die plaas wat aan syne grens, te gaan nie. Daar is vir hom genoeg te doen op sy eie gebied. Boonop lol hy nie met ander se jagvelde nie.
Baie jare vantevore het hy kom eenkeer noord-oos van sy eie gebied bevind. Hy het sommer in die veld rondgeloop en wilde vrugte gesoek. Toe hy hom kom kry, is hy tussen ‘n Boerekommando en ‘n Bantoe-impie. Hy het daardie dag heelwat gewig verloor en van toe af meesal tuisgebly.
Maar Waterbobbejaan weet nou dat daar iets aan die gang is. Hy staan op en begin verder soek. As hy maar net weet waar die dier sy kos vandaan kry, kan hy hom voorlê. Hy vang seker maar bokkies in die veld. Daarom is Bobbejaankrans se kleinwild so skaars.
Toe Waterbobbejaan opstaan by die fontein, spring die dier van sy observasiepos af en begin hom koes-koes volg. Hy wil onbelemmerde toegang tot Waterbobbejaan se gebied hê en hy kan dit slegs verkry as hy vir Waterbobbejaan uit die pad kan kry. Waterbobbejaan moet doodgemaak word.
Intussen stap Waterbobbejaan al langs die fonteintjie se lopie af. Hy het die eerste spoor by hierdie watertjie gekry en daarom glo hy vas dat hy nog spore verderaan sal kry. Die stroompie vloei in ‘n groter een en hulle saam weer in ‘n groter een. ‘n Kilometer van die fonteintjie af is die dier kort agter Waterbobbejaan. Maar al die ou se aandag is vorentoe. Hy kom niks agter nie. die dier weet dat hy dit nooit ofte nimmer moet waag om Waterbobbejaan openlik aan te pak nie. Hy het ook ‘n paar dinge gesien wat Waterbobbejaan met sy hande gedoen het. Die dier is ‘n jagter en hy weet wat hom te wagte is as daardie paar pote hom in die hande kry.
Dit is vir Waterbobbejaan ‘n paar keer of hy iets hoor wat hy nie sien nie. Hy staan selfs af en toe stil, maar stap dan weer aan, sy aandag pal op die grond gevestig. ‘n Entjie verder is daar ‘n diep waterpoel. Waterbobbejaan is dors. Dis ‘n warm en broeiende agtermiddag. Hy gaan sit by die poel en drink hom versadig. Toe skuif hy ‘n entjie agteruit tot teen die hoë rots wat agter hom is en kyk na die water.
Die rots loop effens skuins na bo. Die groot dier loer net oor die kantjie. Hy lê reg bokant Waterbobbejaan. Die ou se kop is sowat drie meter onderkant hom. Hy wil op hom spring en as hy op hom te lande kom, sy tande diep agter sy nek inslaan. Dan sal hy nie kan loskom nie. Hy weet teen hierdie tyd al hoe om te byt.
Maar hy wil doodseker maak van sy saak en daarom wag hy nog ‘n bietjie. As Waterbobbejaan net ‘n tree of wat vorentoe wil beweeg, nader na die water se kant, sal dit veiliger wees om te spring. Hy sal hom vooroor stamp sodat die ou boonop sy balans verloor. Soos sake nou staan, sal hy half bo-op sy kop beland en dit sal sake vir hom bemoeilik om sy tande agter sy nek in te kry.
Tussen Waterbobbejaan en die poel is ’n tree breë spoelsand. Hy kyk na die vlak watertjie waar die poel begin. Hy kan al te duidelik onder die vlak water sien, want onder die water is wit sand en die lig wat deur die sand weerkaats, maak die water deursigtig.
In die helder, lou water kom ‘n vissie stadig en dom aangeswem. Hy wikkel sy stertjie lomp heen en weer. Hy is ‘n kleuter en leer nog swem. Waterbobbejaan vergeet alles om hom heen en wonder of hy die vissie gevang gaan kry. Hy kan as hy net stil genoeg sit en wag totdat die vissie nader aan die kant is. Dan moet hy skielik vorentoe spring en hom met sy hande skep.
‘n Kuifkop-visvangertjie sit op ‘n takkie net bokant die dier wat vir Waterbobbejaan loer. Hy sien die twee groot diere onder hom en steur hom nie in die minste aan hulle nie. Die klein vissie is vir hom van groter belang as hierdie twee. Hy het ook nooit kon dink dat Waterbobbejaan in dieselfde dinge as hy belangstel nie. maar selfs al sou hy dit geweet het, sou hy nie kon weet hoe rats die groot ou is nie.
Die vissie kom nader na die kant. Waterbobbejaan buig stadig vorentoe. Die dier op die rots kom effens orent en die visvangertjie begin sy vlerke lig.
Skielik storm ‘n groot, geelpens krap met wye, oop knypers op die vissie af. Agter hom kom ‘n streep gekleurde modderwater aan. Dit lyk soos ‘n stofstreep onder die water. Die vissie vlieg kortom en verdwyn in die diep water. Die krap bly ‘n paar sekondes lank met sy oop knypers staan, maak hulle stadig toe en draai om na sy moddergat wat onder ‘n klip is.
Waterbobbejaan gryp ‘n handvol sand en help die krap om sy gat vinniger te bereik. Die dier op die rots gaan lê en die visvangertjie vlieg vies weg. “Kwêê...” begin ‘n kwêvoël. Waterbobbejaan spring baie vinnig regop en begin rondkyk. Die dier op die rots sluip vinnig en geruisloos terug na sy koppie.
Daardie selfde middag is die seuns met die honde in die bos. Hulle leer vir Frits en Grietjie om die veld en sy reuke te leer ken. Die hondjies moet nie eendag verdwaal nie. Grietjie verwelkom dit, want sy is besig om die kleintjies te speen. Dis goed dat sy vir lang tye van hulle af weg is.
Wagter en Prins is ook daar. Die seuns is besig om hulle span agtermekaar te kry. Die honde word geleer om ‘n sekere dril te volg. Frits en Grietjie sny spoor en die groot honde is net agter hulle om die geveg aan die gang te sit as hulle op die wilde dier afkom. Dan trek Frits en Grietjie terug. Maar as dit kleiner diere soos meerkatte, muishonde of ratels is, dan is die twee ook in die stryd.
Sakamatlakobata stap saam.
“Jy stap met jou geweer saam, Kootjie. Mens kan nooit weet nie. Ek wil die angs van nou die dag nie weer deurgaan nie, en as daar iets met die kinders gebeur: ‘O, sterk my swakke kragte’!”
Die boer het gekla en gemor, maar toe sy geweer gevat en saamgeloop. Hy maak of hy nie van kinderspeletjies hou nie, maar in werklikheid is hy al te bly om so beveel te word, want hy is nuuskierig om te sien hoe die nuwe honde presteer. Maar hy het byna omgedraai, want toe hy ‘n paar treë van die kombuisdeur af weg is, roep sy vrou.
“Wat is dit?” vra hy.
“Het jy die regte patrone?”
Hy word so moedeloos dat hy lus het om iets te doen. Hy weet net nie wat nie. Asof hy ooit weer so ‘n fout sal maak.
Boer is tevrede met die honde. Hy raai die seuns aan om hulle elke agtermiddag vir ‘n oefening te neem, altyd verder en verder weg, sodat hulle die terrein kan leer ken.