WATERBOBBEJAAN (21)

Ben Venter 

Lees reeks by Waterbobbejaan

Sakamatlakobata se vrou bring vir hom ‘n koppie tee onder die blinkblaar.

“Sê vir die seuns hulle moet ‘n groot, vet hamel vir Trappies se vrou afkeer. Stuur vir haar ‘n kan wyn. Dis syne. Laat weet vir haar sy kan op die plaas bly. Maar sy moet gereeld vir jou help en sy kinders moet leer om die skape op te pas. As hulle te klein is daarvoor, moet hulle vir jou skoffel in die groentetuin. So nie, kan hulle met die kuikentjies help. Hulle moet iets doen. Bobbejaankrans is nie ‘n Engelse sendingstasie nie.”

Ouderdom is niks anders as ‘n gestadigde vereensaming nie, dink hy. Die kennisse van jou jeug sterf een vir een, Blank en Bantoe. Jy begin ook terugdink aan jou eerste hond en eerste span osse, jou eerste geweer en die eerste bok wat jy geskiet het.

Eensaamheid. Wat beteken die woord regtig? Jy kan sê iemand is ryk of arm. Ander mense sal verstaan wat jy sê. Of jy kan sê iemand is kort of lank, jonk of oud. Almal verstaan dit. Maar as jy sê iemand is eensaam, wat sê jy dan? Elkeen verstaan iets anders daaronder. Oom Paul Raaswater sal eensaam wees sonder sy stem. Oom Stoffel Wolf sal eensaam voel sonder sy hare en baard. Oom Hans Meerkat sal eensaam wees sonder sy vrou.

En nou is hý eensaam.

Sakamatlakobata sit lank onder die boom. Ons moet hierdie bos tem, dink hy. En “ons” is nie Trappies nie. “Ons” is nie my bure nie. “Ons” is ek en my gesin. “Ons” is ek wat leiding moet gee. “Ons” is ek wat bevele moet gee. “Ons” is my kinders wat deur my geleer moet word wie hulle is en waar hulle heen gaan, wat hulle behoort te doen.

Hy staan flink op toe sy dogter hom roep vir ontbyt. Daar is ‘n ongewone stilte terwyl hulle eet. Almal dink aan Trappies.

Sakamatlakobata stoot sy bord agtertoe toe hy klaar is.

“Piet, van vannag af sit jy in die kraal.”

Hy kyk vas in Piet se oë. Piet kyk nie weg nie.

“Ja, Pa.”

“Oor my dooie liggaam,” sê die boer se vrou

“Nee, Sanna, agter die kraalmuur. Maak vanmiddag die Mauser skoon, Piet. Sannie, jy sit vir hom vyf patrone in die magasyn. En as dit weer die verkeerdes is, dan gaan jý daar sit.”

Hy staan op en stap uit.

Die boer se vrou loop die hele dag met ‘n dik mond rond. Sy weet self nie waarom sy vies is nie. toe haar eie pa so oud soos Piet was, het hy sy man gestaan by Vegkop. ‘n Paar maande later was hy op die strafekspedisie teen Silkaats. Daardie kommando het hierdie bosveld bewoonbaar gemaak. Moet hulle boonop die bosveld teruggee aan die wilde diere? As haar pa dit hoor, sal hy mos sy ore van sy kop af skaam. Sy ken haar pa. As Rabasetsana hoor dat sy bang is dat ‘n kind van haar teen wilde diere moet waghou, sal hy sy perd opsaal en dit self kom doen. En nòg sy, nòg Kootjie sal hom keer.

Toe sy alles mooi deurdink het, is sy skaam en ook tevrede.

Hulle behoort so te maak as dit nodig is.

Teen laat namiddag sien die boer ‘n ou, grys Bantoe na sy opstal aangery kom. Hy stap vinnig huis toe.

Hy gaan sit onder die blinkblaar en wag.

Die gryskop klim ‘n hele entjie van die werf van sy perd af en roep ‘n wagtertjie nader om die teuels vas te hou.

Toe stap hy waardig en regop na die boom. Sy skildvel en assegaai hou hy in sy linkerhand.

Hy bly staan eerbiedig ‘n paar treë van die boer af.

Sakamatlakobata kyk uitdrukkingloos na die ou man en sê nie ‘n woord nie. Dis sy werf; hy word eerste genader en gegroet. Hy doen dieselfde as hy by een van hulle kapteins kom.

“Ek groet die Baas!” Hy hou sy regterhand hoog in die lug.

“Ek hoor jou.”

“Calvyn stuur groete vir sy vriend, Sakamatlakobata. Hy onthou hoe Sakamatlakobata hom en sy volk geleer het om behoorlik vore vir waterlei te grawe van hulle fonteine af na hulle lande.”1

“Ja.”

“Hy hoor Sakamatlakobata het moeilikheid met wilde diere. Hy vra hoeveel manne hy moet stuur wat hom kan kom help.”

“Ek is bly om van Calvyn te hoor. Ek sal hom laat weet as ek hulp nodig het.”

Die kaptein se boodskap is afgelewer, die ringkop het sy antwoord.

Toe gaan sit hy met ‘n steun voor die boer en kruis sy bene stadig.

“Hoe gaan dit met jou, die seun wat ek help grootmaak het?”

“Goed, oudste. En met jou en jou huis?”

“My vrou is oud en siek. Die kinders is al groot.”

Die indoena wil nie graag opstaan nie; die jig pla te veel. Daarom wys hy met sy assegaai se punt ver bo hom hoe groot hulle is.

Sakamatlakobata se gesig is sonder uitdrukking, maar daar is pyn in hom wat diep weggesteek is.

Die ou man haal stadig ‘n ‘n snuifdoos, gemaak van die punt van ‘n beeshoring, uit die velsak wat om sy lyf hang. Hy gee dit vir die boer en hy snuif saam met die raadgewer van sy Bantoevriend.

“Loop jy nog alleen?”

“Ja, Oudste.”

“Dis goed so.”

Hulle sit ‘n tyd lank stil.

“Hoe werk ons mense wat hier bly?”

“Partykeer moet ek onder hulle slaan,”

“As jy dit nie doen nie, dan sorg jy nie goed vir hulle nie. Daarom is jou naam Sakamatlakobata. Onthou jy nog?”

“Ja, maar ons hoef nie daaroor te praat nie.”

“Dit is so.”

Hulle kyk in mekaar se oë sonder skroom.

Sakamatlakobata voel weer die pyn wat diep lê. Al die indoena se kinders kan nie so groot wees soos wat hy met die assegaai se punt aangedui het nie, dink hy wat jou met krag teen die grond gooi. Want die ringkop se oudste seun se bynaam is Rakotani (Hy wat die gebreekte bene het)

1. Calvyn se stat was die naam van Dinokana voor die Driejarige oorlog. Dis deur die toedoen van Rabasetsana deur president Kruger en die Volksraad aan Calvyn en sy volgelinge geskenk as hulle onvervreembare eiendom. Dis geleë wes van Zeerust in Wes-Transvaal