WATERBOBBEJAAN (23)

Ben Venter 

Lees reeks by Waterbobbejaan

Sakamatlakobata en al die bure staan rondom oom Stoffel Wolf by die skaapkraal.

“Hier het die satan met die hamel grondgevat. Ek was gelukkig douvoordag by die kraal voordat daar nog ‘n bediende geloop het of die skape uitgekeer is. Ek het die spore met hierdie tak toegemaak en julle laat roep.”

Hy lig die tak versigtig op en almal besigtig die spore.

“Dis nie ‘n tier of ‘n leeu nie,” sê oupa Rabasetsana. “Jy kan dit aan die kussinkies en die naels van die spore sien.”

Almal stem saam.

“Ek het van kommandant Jan Viljoen en ander grootwildjagters gehoor van ‘n tamaai groot soort Kalahariwolf wat hulle op hulle jagtogte na die noorde teëgekom het. Ek dink dis een van hulle wat hierheen afgetrek het. Daar is moontlik ‘n tekort aan wild weens ‘n groot droogte.” Niemand verskil van die ou man nie, want nie een het ‘n beter of ander storie nie.

“Kom ons saal op en gaan soek hom,” sê Sakamatlakobata.

“Laat ons eers gaan eet. Die vrou is gereed.”

Terwyl hulle eet, sê oom Hans Meerkat: “Jy sê hy het een hamel weggedra, maar vier doodgebyt. Hoekom sal hy dit doen? ‘n Luiperd maak soms so, maar ek het nie dié ondervinding van ‘n wolf nie.”

“Ek weet self nie.”

“As ‘n roofdier só maak, dan is dit soms omdat hy kwaad is. Van pure boosaardigheid byt hy links en regs dood. Hy hoef ook nie juis baie honger te wees om so te maak nie. Ons klap soms ‘n bediende onnodig hard en daarna voel ons beter.”

Pa is vandag weer so slim soos blou-ape in ‘n populierbos, dink Sakamatlakobata. Dis net omdat hy lanklaas op ‘n jagtog was. Hy is bang hy sal oud en bekwaald word, dan sal hy ons nie meer kan vergesel nie. Oupa sien baie uit na hierdie ervaring. Hy is so bly oor die jag soos ‘n Bantoe oor ‘n nuwe klein byltjie. Hy jag graag, maar in die bos, nie in ‘n boek nie. Hy hou meer van ‘n geweer as van ‘n “pin”.

“Watter geweer vat Oupa saam?” vra oom Koos Kraak.

“My Martini-Henry. Hoe dink jy dan?”

“Ek het maar net gewonder.”

“Wat pla jou, Koos?”

“Ons wil seker die vel huistoe bring as ons die wolf geskiet het.”

“Nou ja?”

“Wat sal oor wees as Oupa hom skiet met ‘n loodkoeël wat so dik soos my duim is? Ons wil nie net die neus en die puntjie van die stert terugbring nie.”

“Koos jy sal kraak as ek jou gryp.”

Oom Koos Kraak is fyngevoelig oor sy bynaam, en hy bly liewers stil.

“Ons sal vanaand tuis wees; maak vir ons ‘n groot ete reg,” sê oom Stoffel Wolf toe hy sy vrou groet.

Die trop honde vat die spoor en die ruiters tou agterna. Die spoor loop reg noord. Dit gaan maar stadig, want die wolf het nie met die voetpaadjie langs geloop nie.

‘n Halfuur later begin die honde hard blaf. Toe die ruiters daar kom, kry hulle die oorblyfsel van die hamel.

“Hy was honger, hier is nie veel oor nie,” merk oom Koos Hamerkop op.

Van daar af draai die spoor skerp regs na die naaste spruitjie. By ‘n sanderige deurloop het hy op sy pens gaan lê.

“Toe was hy al trommeldik gedrink aan die water,” sê oom Stoffel Wolf.

Hulle gaan deur die spruit en anderkant draai die spoor weer links en reg noord. Uur na uur ry hulle stadig voort.

Sakamatlakobata trek sy perd in.

“Stoffel, ek dink jy moet ‘n Bantoe met ‘n handperd huis toe stuur. Laat hy vir ons ‘n paar komberse en meel en vleis gaan haal. Laat ons vannag hier slaap. Dit help nie om terug te gaan en môre weer hier te begin nie. Dit sal ‘n voormiddag lank vat om hier te kom. Intussen word die spoor al ouer.”

Oom Stoffel stuur twee Bantoes met handperde terug met die opdrag om nie vleis te bring nie. Hulle sal wel voor sononder ‘n bok geskiet kry.

Toe die son laag sit, draai hulle af na ‘n drif waar vars water is en hulle begin vuurmaak. Na ‘n rukkie kom oom Hans Meerkat aangery met ‘n rietbok wat dwarsoor sy saal lê. Almal help afslag en na ‘n rukkie hang die karkas aan ‘n soetdoringtak.

Rabasetsana is bly oor sy skoonseun se voorstel. Hy het baie lank laas in die veld gekampeer en vleis gebraai. As hy sy sin kan kry, dan kan hulle ‘n week lank na die wolf soek. Of hulle hom kry of nie maak nie aan hom saak nie.

.  .  .  .  .

Toe die jagters die volgende oggend weer begin ry, trek Piet net sy perd in aan die voet van die rantjie. Hy roep die honde terug, klim af en haak die teuels oor sy linkerarm. Toe laai hy sy geweer en kyk na die steil, gruiserige paadjie wat tussen die klein doringbossies deur vleg na die skeur ver bo hom in die granietrots.

Die skaapdief woon daar.

Met die geweer en al voel Piet baie klein teen die koppie en die dier. Hy weet ook dat hy die voorsprong wat hy die vorige nag gehad het, nie meer het nie. Die dier moes hom al sien aankom het, en hy kan hom nie meer verras nie. Dis ook te helder oordag en die skeur is te hoog vir so ‘n verrassing. Boonop moet hy steil oploop en hy sal moeg bo kom. Die dier kan van bo af op hom spring en die spring alleen kan hom laat afrol en sy geweer laat verloor. So weerloos wil hy nie wees nie.

Terwyl hy al die dinge oorweeg, staan Waterbobbejaan ver agter hom doodstil in ‘n kol soetdorings. Hy kyk nie slegs na die ruiter nie, maar hy kyk ook die koppies deur wat voor en langs die seun is. Hy kan baie beter sien as ‘n hele paar bobbejane saam. Daarom leef hy nog.

Na ‘n aantal minute sien hy ‘n ligte beweginkie net oos van die ruiter in ‘n klein koppie. ‘n Snoet steek effens tussen die lae bossies uit. Toe weet hy dat dit die vorige nag se dier se snoet is.

Die dier het net ‘n tree van sy klipskeur af links weggedraai, deur die kloof gestap en toe in ‘n ruie, klein koppie gaan lê. Nou kan hy die agtervolgers wat hy verwag het, dophou terwyl hulle op ‘n ou spoor is.

Sy plan is oulik, maar hy het aan iets nie gedink nie: daar is nog ‘n ander spoorsnyer op die ruiter se spoor.

Piet klim op sy perd en begin op sy gemak terugry. Frits en Grietjie vat ewe gedwee die spoor weer huis toe al is dit onnodig. Piet weet nou wat hy graag wou weet, en die ruiter ry houtgerus huis toe sonder om weer om te kyk.

Waterbobbejaan bly staan net waar hy is. Hy sien die ruiter gaan terug en hy het vrede daarmee. Hy is met sy eie ding besig.

Hy wil graag sien of die dier hom gewaar het. Hy sal dit van sy optrede kan aflei. Toe die ruiter en honde by hom verbygaan, staan die dier stadig uit die bossies op. Hy draf van die rantjie af en kies kortpad deur die veld, reg noord. Terwyl hy vir die jagters geloer het, het hy ‘n korrekte waardering gemaak. Hy sien nou waar sy grootste gevaar lê en omdat hy die boer se plaas baie goed bespied en leer ken het, weet hy wat hy vinnig en gou moet doen.

Waterbobbejaan begin agter hom aan draf.