Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Maandagoggend ry Sakamatlakobata oor na sy skoonpa, Rabasetsana. Hy gaan help hom om wabande te kort. Die werk sal die grootste deel van die dag in beslag neem.
Die seuns en die mans lei water in die lemoenboord. Die vrouens was wasgoed in die spruit. Al vier die groot honde is by die seuns in die boord.
Een van hulle het vroeër die oggend al die stoele, kassies en die groot boekenhoutkombuistafel teen een muur gestoot en die kombuisvloer gesmeer. Die vloer is nog nat. Die boer se vrou staan op ‘n velletjie en werskaf met die kos op die es.
Sy het haar les geleer. As die mans en bediendes weg is, hou sy die klein hondjies in die kombuis by haar. Maar omdat die vloer nat en glad is, het sy hulle op ‘n vel op die kombuistafel neergesit. Hulle sit op hulle boudjies die wêreld en bekyk. Elkeen het een keer die afgrond oor die tafel se rand beloer en toe besluit om op die tafel te bly.
Die boer se vrou is besig om met ‘n lang yster die hout in die vuur om te woel.
Wolf kom met ‘n geweldige spoed oor die werf aangehardloop. Hy spring los oor die onderdeur en land in die middel van die kombuisvloer net agter Sanna. Maar hy het nie van die nat misvloer geweet nie. Hy wou vastrap, maar hy gly tot teenaan die agterste muur en stamp hom dat hy hik. Hy slaan agteroor en toe hy regop wou kom, rol hy om. Hy kom weer op sy pote, maar toe hy wil wegspring na die tafel, gly sy twee voorpote weg van mekaar af onder hom uit.
Toe gee die boer se vrou hom die eerste hou oor sy rug met die warm yster. Wolf kom regop en spring gly-gly vorentoe. Hy kry weer ‘n brandhou oor sy kruis. Hy gryp die naaste hondjie en struikel oor sy eie pote op pad na die agterdeur. Hy trap vas om te spring en slaan neer. Toe vel sy hom weer. Wolf sien dat hy nooit op daardie vloer soveel vastrapplek sal kry dat hy kan spring nie. Hy haak sy voorpote aan die onderdeur se boonste rand vas en trek homself teen die deur op. Teen daardie tyd is die kind van ‘n Voortrekkergesin by en sy teister hom met die warm yster oor sy blaaie.
Wolf klouter grimmig oor die agterdeur, spring anderkant af en hardloop so al wat hy kan by die waenhuis verby.
“Kyk hoe lyk die vloer nou!” sê die huisvrou en sy is baie vies.
Sy roep die bediende.
“Sê vir baas Piet hy moet dadelik hier kom!”
Toe Piet uitasem daar aankom, wys sy vir hom die vloer en vertel wat gebeur het.
“Nou moet hierdie vloer oorgesmeer word en jy weet hoe mens deesdae met die bediendes sukkel. Hulle wil dieselfde werk nie twee keer op een dag doen nie. En een hondjie is boonop weg. Ry oor na jou pa en sê hy moet die draak kom skiet. As hy te sleg is om dit te doen, sal ek ‘n perd opsaal, ‘n geweer vat en dit self gaan doen.”
Piet jaag oor na sy oupa toe. Langs die pad besluit hy om dele van die boodskap nie letterlik oor te dra nie. Netnou looi sy pa hom oor ‘n ding waarmee hy niks te doen het nie.
“En nou, Piet, wat is dit?” vra sy oupa.
Hy vertel die hele storie.
Almal is doodstil.
“Piet, gaan sê vir my bediende hy moet my perd opsaal en bring. Gaan na jou ouma en vra haar my Mannlicher en tien patrone.”
“Wat wil Pa nou doen?”
“Ek gaan op kommando teen daardie wolf. Dit lyk my op jou plaas is die bos besig om by die agterdeur in te kom. Waarvoor het ons so baie gely en gestry teen barbare en Engelse, teen wilde dier en bos? As my kind op jou werf nie veilig is nie, sal ek haar gaan beskerm.”
Sakamatlakobata word so woedend dat hy nie kan praat nie. Dis alleen aan die vyfde gebod en die ou man se ouderdom te danke dat hy hom nie nou geklits het nie.
“Ek is baas op my plaas. Ek sal dit self doen, Pa.”
Hy klim op Piet se perd wat nog opgesaal staan en jaag huis toe.
Piet saal sy pa se perd op en jaag agterna.
Toe hulle wegjaag, gaan sit Rabasetsana op die aambeeld en begin hardop lag.
Hy het nie ‘n woord bedoel wat hy gesê het nie.
Hy wil ook nie die wolf wees nie.
Daar is vandag baie rook is Sakamatlakobata se kombuis.1
1, Moeilikheid tussen man en vrou.