WATERBOBBEJAAN (28)

Ben Venter 

Lees reeks by Waterbobbejaan

(VOORLAASTE AFLEWERING)

Rabasetsana het lekker gelag. Dit was sy laaste lag vir ‘n hele paar dae. Hy geniet dit, want dis die eerste keer dat hy sy skoonseun so op hol kry.

Terwyl hy op die aambeeld sit, het iets anders gebeur.

Waterbobbejaan sit langs sy waterval en sien die boer met sy perd na ‘n ander plaas ry. Hy sien die seuns en werksmense in die boord werk.

Hy sit die wêreld en beloer en kyk na niks in die besonder nie. Toe sien hy ‘n beweging links van hom. Wolf is besig om die plaaswoning te bekruip van die westelike kant af. Aan daardie kant van die huis is net die leë skaapkraal en die waenhuis. Daar is geen mens in sig op die werf nie.

Waterbobbejaan besluit om die reg in eie hande te neem. Hierdie huisbesoeke van wolf gaan die wêreld vir almal in die bosveld warm maak. Hy spring op en begin vinnig hardloop, sodat hy agter wolf kan kom. Toe hy by die skaapkraal verbyhardloop, spring wolf net oor die onderdeur.

Waterbobbejaan onthou dat wolf laas keer noordwaarts van die huis af weggehardloop het met die hondjie in sy bek. Hy gaan staan agter die waenhuis en wag wolf in.

Waterbobbejaan is nie bang nie, want die boer is weg. Maar hy is versigtig vir die boer se vrou. Die seuns en die Bantoes is voor die huis. Hulle sal hom nie sien nie.

Hy hoor die dowwe houe in die kombuis en hy weet dat dit nie wolf is wat hulle uitdeel nie. Toe hou hy hom gereed: as wolf by die waenhuis se hoek verbykom, gaan hy hom gryp. Hy het al van tevore ‘n wolf se ore gedraai en hom goed verinneweer. Waterbobbejaan weet dis te laat om die hondjie te red. Maar hy wil hierdie strooptogte beëindig.

Hy durf nie om die hoek loer nie. As wolf hom sien, sal hy wegswaai. Hy wag ‘n rukkie en toe hoor hy wolf vinnig aangehardloop kom.

Toe wolf by die hok verbyhardloop, gryp Waterbobbejaan na hom – en hy gryp net mis. Wolf voel hoe Waterbobbejaan se hande oor sy rug en stert gly. Hy skrik groot en begin baie vinnig hardloop. Van pure skrik en verbouereerdheid vergeet hy om die hondjie wat al lankal dood is, te laat val. Hy dra nou ‘n ekstra gewig saam met hom en die gewig maak dat hy nie vinnig kan omkyk en sy kop gou weer kan terugdraai nie. Die warm yster in die kombuis het hom ook gekwes en dit maak sy hardloop pynlik. Maar wolf weet sy lewe is nou op die spel. Hy besluit om nie weg te swenk na die bosagtige dele nie. Waterbobbejaan sal hom daar sekerlik inhaal. Wolf hou so na as moontlik aan die wapad wat van Sakamatlakobata se huis na Rabasetsana s’n gaan.

Na ‘n rukkie kom Piet vinnig van agter af aangejaag. Wolf en Waterbobbejaan hoor die perdehoewe en soos een man draai altwee effens na die bosse se kant. Piet jaag ingedagte by hulle verby. Toe hy weg is, swaai altwee terug, nader na die pad. Wolf dink so hard as hy kan en besluit dat daar net een manier is om sy lewe te red: hy moet reguit aanhou in die beespaadjies lang die pad. Weerskante van die pad is klipperige hoogtetjies en hy kan nie van klip tot klip soos Waterbobbejaan spring nie.

Na ‘n paar minute kom Sakamatlakobata van voor af te perd aangejaag. Hulle swenk links en toe hy verby is, kom hulle weer pad se kant toe. Piet kom aangejaag. Hulle draai uit en kom weer terug. Waterbobbejaan sien hy haal vir wolf stadigaan in. In doodse stilte hardloop altwee so al wat hulle kan. Sakamatlakobata is verby en nie een van die twee het enige vrees vorentoe nie.

‘n Paar honderd treë van Rabasetsana se huis af begin Waterbobbejaan vat-vat aan wolf se sterthare.

Terwyl hierdie wedloop aan die gang is, is Piet se ouma besig om vir haar man koffie in te skink. Sy is ‘n stil en baie vroom mens. As sy die dag gesels, gesels sy liefs uit die Skrif. Sy hou haar swart kappie op haar kop al staan sy voor die es.

Sy het ‘n rukkie gelede gesien dat haar skoonseun en kleinkind terugjaag na hulle plaas. Omdat sy nuuskierig is om te hoor wat gebeur het, wil sy na haar man stap en vir hom sommer koffie en beskuit saamvat. Sy begin deur toe loop met die koffie in haar regterhand en die piering vol beskuit in haar linkerhand.

Net duskant die woning is ‘n draadheining. Wolf spring vinnig en hoog oor die draad, waterbobbejaan doen dieselfde, maar in die proses verloor hy ‘n paar sekondes.

Toe hulle in die pylvak kom op pad na die agterwerf, hardloop Waterbobbejaan soos nog nooit tevore nie. hy gryp-gryp weer na wolf se stert. Wolf sien dit. Hy trek sy rug op ‘n knop en steek sy stert tussen sy bene in. En toe hardloop hy eers. Dit dreun soos die twee oor die werf aangehardloop kom.

Piet se ouma kom by die kombuisdeur uitgestap. Haar swart kappie verhinder dat sy iets sien of hoor. Sy hou die koffie en beskuit ‘n entjie voor haar. Wolf wat kleiner as Waterbobbejaan is, hardloop onder die koffie en beskuit deur. Maar Waterbobbejaan loop die koppie en die piering vol beskuit netjies uit haar hande uit.

Sy steek vas en kyk na haar twee uitgestrekte hande waarin niks is nie.

“Moet ek gaan met leë hande...” sê sy saggies. Dis die eerste gedagte wat in haar vroom gemoed opkom.

Sy kyk weer na haar uitgestrekte hande. Hulle staan voor haar uit soos ‘n kalfknapsak se voorpote.1

Die groot “Vader” koppie lê stukkend voor haar. Die piering is besig om op sy kant van haar af weg te rol. Die mosbeskuit lê rondom haar gesaai.

Toe kyk sy regs en sien die twee taters kort op mekaar se hakke op pad na die plek waar die smidwerk gedoen word.

“Waar berg ek my!” gil sy benoud en hardloop slaapkamer toe.

Rabasetsana hoor haar gil en hardloop na die deur toe. Om beter te kan sien sit hy sy bril op. Dit vertraag hom ‘n bietjie. Dis vir hom gelukkig, anders sou altwee hom pens en pootjies geloop het. Toe hulle voor die deur verbyhardloop, spring hy om en val oor die aambeeld. Hy stamp boonop altwee sy maermerries stukkend. Hy gaan sit op die aambeeld en begin spoeg aan die stukkende plekke smeer.

Rabasetsana sê sy sê, dis baie minder vroom as sy vrou s’n.

‘n Jong donkie met lang klosse hare onder sy pens stap agter die gebou uit. Wolf spring onder sy pens deur maar Waterbobbejaan stamp hom dat sy klosse soos vere begin rondwaai oor die werf.

Die vul is meteens helder wakker. Sy ore spring penorent en met vier stywe, reguitstaande pote begin hy al balkende weg te hardloop.

Waterbobbejaan val dat hy hik. Hy spring op en hardloop slap links die rantjies in.

1 Sakke was skaars in daardie dae. Die oumense het ‘n kalf se vel so heel moontlik afgetrek van die nek se kant af. Die nek was die enigste opening. Waar die kloutjies afgesny is, is die vel toegewerk. So ‘n velsak is eers vol as gemaak sodat dit nie bederf nie. In die proses het die vel hard geword. Daarna is dit gebruik om kalk, sout en ander materiaal in te bêre. So ‘n kalfknapsak het altyd op sy “boude” gestaan met sy vier pootjies reg voor hom uitgestrek. ‘n Stuk ronde hout wat by die nek ingedruk is, was die prop.