WATERBOBBEJAAN (29)

Ben Venter 

Lees reeks by Waterbobbejaan

SLOT

Waterbobbejaan het af en toe in die nag na die bok in sy hok gaan kyk. Toe hy die soveelste keer daar kom, sien hy in die maanskyn die dun draad wat net bokant die grond gespan is en wat na die deur toe lei. Hy bring dinge in verband met mekaar en begin verstaan.

Toe Sakamatlakobata terug is van Rabasetsana het hy dadelik ‘n briefie geskryf waarin hy ‘n beroep op al sy jagmaats doen om die volgende oggend dagbreek by hom te wees.

“Saal ‘n perd op, Abel, en vat die notisie na al die bure toe. Maak gou!”

Daardie middag word daar nie baie in die kombuis gepraat nie. Die boer en sy seuns maak gewere skoon. Sanna en die dogters pak biltong en beskuit in die knapsakke.

Na sononder het die boer en sy seuns die bok gestel en toe aandete gaan soek.

Hulle is net weg van die vanghok af, toe stap Waterbobbejaan in die hok in. Die bok staan hom skeefweg en beloer. Waterbobbejaan trap versigtig oor die steldraad en maak die bok los. Terwyl hy dit doen, paai hy hom. Toe dra hy die bok onder sy arm na die paadjie waar wolf snags en bedags langs loop. Hy sit die bok in ‘n maanligkol neer en gaan skuil agter ‘n dik boom net suid van die bok.

Toe die bok sien dat hy heeltemal in die ope lug is, geen hok of muur rondom hom nie, begin hy blêr. Hy ken die bosveld te goed om gerus te voel.

Die bok het ‘n paar minute lank geblêr, toe sien hy iets wat op sy pens aangeseil kom al met die voetpaadjie langs. Hy hou op blêr en bekyk die vreemde verskynsel. Toe die ding ‘n paar treë van hom af is, lig die bok sy kop op uit nuuskierigheid om beter te kan sien.

Toe spring wolf.

Terselfdertyd storm Waterbobbejaan vorentoe. In die lug kry hy wolf se twee ore met sy regterhand in die hande en gryp hom aan sy kruis met sy linkerhand. Hy hou hom hoog in die lug en begin met hom aanstap.

Wolf huil van magteloosheid en woede. Hy draai na alle kante, maar die hande wat sy ore en kruis het, is so sterk en hou so styf dat hy niks kan doen nie. Hy kap met sy naels na Waterbobbejaan se maag, maar sy arms is langer as wolf se pote.

Waterbobbejaan kom by die vanghok. Hy swaai wolf ‘n keer of wat vorentoe en agtertoe en gooi hom toe soos ‘n sak mielies in die hok in.

Die deur klap toe.

Waterbobbejaan stap na die bokkie en tel hom op. Hy stap met hom onder sy arm na die boord toe. Hy loop agter die klippe verby waarin die skeur is en sit die bokkie in die fyntuin neer. Die tuin is goed toegedraad.

Teen dagbreek drink Rabasetsana, oom Koos Hamerkop, oom Stoffel Wolf, oom Hans Meerkat, oom Paul Raaswater en oom Koos Kraak koffie in Sakamatlakobata se kombuis.

Oom Stoffel Wolf kan sy koppie nie vashou nie. die koppie en die teelepel ratel in die piering. Hy het ‘n voorgevoel dat daar vandag ‘n groot slag gelewer gaan word. Hy begin visioene sien.

“Sanna, daardie wolf se vel is joune. Ek gaan hom vir jou laat brei, dan kan jy hom vir ‘n voetmatjie gebruik. Ek gaan sy stert afsny en dit aan ‘n kort olienhoutstaffie vaswerk; jy kan vlieë daarmee wegwaai. Sy tande gaan ek een vir een met ‘n kraaibektang uittrek en blink poleer. Ek gaan gaatjies deur hulle boor en hulle vir jou in ‘n string ryg.”

“Moet ek dit dan om my nek dra soos ‘n toordokter, Stoffel?”

“Laat ek klaar vertel. Sy naels gaan ek afsny en ook blinkmaak. Ek gaan hulle inryg ... “

“Dan moet my vrou dit seker om haar enkels dra en met die string tande en al soos Modjadji lyk nè?”1

Sakamatlakobata sit sy koppie driftig neer.

“Wag, Koos, ek is nog nie klaar nie. sy snorre gaan ek afsny ...”

“En Sanna moet hulle seker deur haar oorbelle en haar neus steek en soos ‘n menseter lyk, nè?”

“Nee, Koos, ek gaan hulle vir pypskoonmakers gebruik.”

“O kragtie!” Sakamatlakobata kyk vies weg.

“As ek met hom klaar is, sal hy nie meer soos ‘n wolf lyk nie. Wat van hom oorbly gee ek vir jou, Koos. Jy kan die vinke in jou koringlande daarmee skrikmaak.”

As ek jou soontoe vat net soos jy is, sal die vinke nooit weer in my lande kom nie, dink Sakamatlakobata.

‘n Wagtertjie sê uitasem oor die onderdeur: “Oubaas, die wolf se bok, die een met die afhoring, is in die groentetuin!”

“Daar’s groot fout! Kom!” skreeu Sakamatlakobata.

Hulle hardloop na die tuin.

Die bokkie staan rustig en vreet in ‘n lap ertjies. Die draad is heel en die hekkie is toe.

“En nou?” vra oom Paul Raaswater. Hy kyk vir Sakamatlakobata .

“Hoe moet ek weet? Ek het hom nie laaste gehad nie.” Hy vererg hom.

“Broedertwis was nog altyd ons ondergang!” skreeu kommandant Koos Hamerkop. “Opstyg, burgers, en storm!”

Hulle tou agter hom aan kombuis toe.

Elkeen gryp sy geweer en spring op sy perd.

“Hok toe!” beveel hy.

Hulle jaag na die vanghok.

Sakamatlakobata jaag ook saam, maar ‘n entjie weg van die ander af. Hy wil nooit in ‘n bondel wees nie: storm jy in ‘n bondel, skiet die Engelse jou dood, en vlug jy in ‘n bondel, trap die Boere jou dood.

Wolf lê op sy pens in die hok., gereed om te spring. Sy groot, bloedrooi oë loer woedend na hulle.

Niemand is vir wolf so kwaad soos sy naamgenoot nie.

Oom Stoffel Wolf klim van sy perd af, gee sy geweer vir oom Hans Meerkat en stap hok toe. Terwyl hy na die hok stap, beduie hy vir die wolf wat hy alles met hom gaan doen. Hy kom by die hok en wys met sy regterwysvinger na wolf.

“Voor die son dáár sit, hang jou vel aan die blinkblaar se laagste tak!”

Hy word so opgewonde dat hy al nader stap en al meer beduie.

Hy steek sy vinger deur die tralies en druk dit onder wolf se neus.

“Jou maaifoedie, ek gaan ...”

Woeps, byt die wolf sy regterhand se wysvinger se voorste lit af en spoeg dit vies uit.

Oom Stoffel Wolf kyk domweg na sy rooi vinger en toe na die wolf. Hy kyk na die stukkie vinger in die hok wat naelkant boontoe lê.

Toe word hy flou en lê buite die hok net langs wolf.

Twee dêps, dink Sakamatlakobata.

Frits en Grietjie sit klapboudjies vir wolf en kyk.

Sakamatlakobata kyk na hulle en skiet die wolf dadelik dood.

Die ooms lag eers klaar. Toe lawe hulle oom Stoffel Wolf.

“Wat dink jy het gebeur, Koos?” vra oom Koos Kraak.

“Dit kan net Waterbobbejaan wees!”

Toe die dag breek, sit Waterbobbejaan langs sy grot en bekyk die boer se werf. Hy sien hoe die ruiters aangery kom na die opstal. Na ‘n tydjie jaag hulle vanghok toe.

Hy is self baie besig. Tussen sy bene staan ‘n erdekruik. Terwyl hy eet, kyk hy kort-kort na die Boere se manewales by die hok. Een gaan lê sowaar langs die wolf, net buite die hok. Waterbobbejaan sit penregop en doodstil die verskynsel en aanskou. Die laaste handvol gemmerstukke is halfpad tussen sy mond en die kruik. Die gebeure by die hok skok hom so dat hy die kos ‘n paar sekondes lank daar hou. Toe gee hy ‘n knor en besluit om liewer verder te eet.

Hy loer in die kruik wat amper leeg is. Die kos wat hy eet is vir hom bitter lekker.

Hy hoor die geweerskoot nie, want die waterval raas te hard.

Waterbobbejaan krap die laaste stroop uit die erdekruik uit, lek dit stadig van sy vingers af, krap ‘n slag oor sy maag en gooi die kruik oor die afgrond.

Toe raak hy doodtevrede in die sonnetjie aan die slaap.

Daardie nag het die waterval mooier as voorheen gedruis en het die bosse soos altyd gesing.

 

1 Die reënkoningin van Noord-Transvaal. Sakamatlakobata was in 1895 op kommando ten haar en ander opstandige Bantoekapteins.